Local newsNews

Waarskuwing oor foto’s neem by ongelukstonele

Die publiek word gemaan en gewaarsku om nie foto's van ongelukke waarin beseerde persone of lyke te sien is, op enige sosiale media te versprei nie.

Helene Eloff, prokureur en regskenner van die Caxton Local Media-huis, raai mense summier af van die neem en die verspreiding van sulke grafiese en selfs onetiese foto’s. Eloff meen ook dat enige voertuie wat in ongelukke betrokke was, nie uitgeken mag word aan die nommerplate nie, en dat die plate dus vervaag of verbloem moet word voor enige inligting en foto’s versprei word.

Lees meer oor onlanse ongelukke: BREAKING: Fatal crash at Mashishing bridge

Daar bestaan verskeie WhatsApp-groepe en Facebook-blaaie wat deesdae poog om ‘n sogenaamde waghondrol te vervul. Ongelukkig kan die groepe nie altyd doeltreffend beheer word nie en duik sulke grafiese foto’s gereeld op.

‘n Motor mag ook nie uitgeken word aan nommerplate nie.

Sosiale media het natuurlik ook ‘n rol om te vervul, en die groepe maak dit maklik vir lede van die publiek om ongelukke aan nooddienste en relevante persone te rapporteer, maar, waarsku Deon Broekman van Rapid Response, die verspreiding van foto’s met beseerdes en lyke in motorwrakke is nie net oneties nie, dit is ook ongevoelig en kan ernstige gevolge hê.

Meer oor ongelukke: Car accident R555, September 10; 18:45

“Ons (die brandweer, nooddienspersoneel, verkeer en die SAPD) kan mense wat verby so ‘n toneel ry en foto’s neem, aftrek en daarop aandring dat die foto’s uitgevee word. ‘n Ongelukstoneel word as ‘n misdaadtoneel hanteer en tot dan, mag ongegronde en dikwels onnodige inligting nie aangestuur word nie. Dit is oneties, onvanpas en glad nie aanvaarbaar nie.”

‘n Samedromming van mense by ‘n ongeluk is niks ongewoon nie, en selfone en kameras word dadelik uitgepluk. Dit is juis waar die probleem lê, meen Christo van Graan, eienaar van die sekuriteitsfirma, Protec. “Naasbestaandes en familie kan toevallig op die foto afkom en die nadraai van die verspreiding van sensitiewe inligting kan tot onnodige moeilikheid lei.”

Daar mag onder geen omstandighede ongeluksfoto’s van beseerdes of lyke op sosiale media versprei word nie.

Van Graan het verlede week ‘n stemboodskap uitgestuur op WhatsApp-groepe waarin hy lede van die publiek inlig oor die prosedures as dit kom by ‘n ongeluk, en meer belangrik, die neem van foto’s en die verspreiding daarvan.

Kapt. Alfred Moela, SAPD-woordvoerder, bevestig die bogenoemde inligting.

“Lede van die publiek moet verstaan dat ‘n ongeluk as ‘n misdaadstoneel hanteer word. Dit beteken dat die toneel op daardie stadium aan die SAPD behoort tot die ondersoek afgehandel en die naasbestaandes of familie in kennis gestel is. Selfs al is die persone in die voertuig familie of vriende van jou, mag grafiese foto’s nie versprei word nie. Die enigste persone wat mag foto’s neem is die SAPD se ondersoekeenheid en die media – mits hulle toestemming verkry het. Ons sal en ons het al mense verplig om foto’s van hulle fone te verwyder.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button