Editor's choiceHard newsLocal newsNewsNews

Oud-generaal rustig op plaas oorlede

Sy afsterwe is 'n skok, nie net vir Ohrigstad se gemeenskap nie, maar ook vir dié van Lydenburg.

OHRIGSTAD – Die voormalige Vryheidsfront-leier, genl. Constand Viljoen, is vanoggend op sy plaas buite die dorp oorlede. Hy was 86 jaar oud.

Frik Roussouw, leier van die Vryheidsfront Plus (VF+) in die dorp, het die nuus van Viljoen se heengaan aan Steelburger/Lydenburg Nuus bevestig.

“Ons was goeie vriende en het mekaar deur die politiek ontmoet. Sy afsterwe is ‘n skok, nie net vir Ohrigstad se gemeenskap nie, maar ook vir dié van Lydenburg. Hy was ‘n uitsonderlike leier en ‘n besondere mens,” het Roussouw vertel.

Hy meen ook dat van sy beste herinneringe aan Viljoen die van die kransleggingsgeleenthede vir oud-stryders by die NG Moedergemeente in Lydenburg is wat Viljoen bykans elke jaar bygewoon het.

 

“’n Meer passievolle en deernisvolle mens was daar nie. Die VF+ is besig met ‘n persoonlike huldeblyk aan Viljoen. Hy laat ‘n groot leemte as voormalige leier, vriend en mens.”

Viljoen se seun Pieter het die nuus aan die VF+ se WhatsApp-groep oorgedra. In die boodskap sê hy: “My pa, genl. Constand Viljoen, is pas oorlede, rustig op sy plaas in Ohrigstad. Wat ‘n man om pa te kon noem.”

Die familie kon egter nie dadelik vir kommentaar genader word nie.

INFO BLOK

Volgens www.sahistoryonline.com was Constand Viljoen ‘n voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag en later die stigter van die Vryheidsfront, voorloper van die Vryheidsfront Plus.

Hy is op 28 Oktober 1933 gebore en ontvang sy skoolopleiding aan die Laerskool Perdekop en Hoërskool Standerton. Hy sluit daarna by die Suid-Afrikaanse Weermag aan en voltooi sy graad B.Sc (B.Mil) aan die Universiteit van Pretoria in 1955.

In 1976 word Viljoen bevorder tot luitenant-generaal. In 1977 word hy hoof van die Suid-Afrikaanse Leër en in 1980 word hy bevorder tot generaal en hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag tydens die grensoorlogdae.

Hy tree in 1985 af om voltyds in die Ohrigstad-omgewing te boer. In 1993 tree hy tot die politiek toe saam met nog drie ander oud-generaals en help met die stigting van die Afrikaner Volksfront. Kort voor die Suid-Afrikaanse algemene verkiesing van 1994, stig hy die Vryheidsfront (VF) as politieke party vir Afrikaners. Die VF beywer hom vir die daarstel van ‘n Afrikanervolkstaat en wen 640 000 stemme in die 1994-verkiesing met Viljoen as leier. In 2001 tree hy uit die aktiewe politiek en as leier van die party, en spits hom toe op sy boerdery in Ohrigstad.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button