Onderwysers by Witrivier privaatskool nie betaal nie
Personeel by 'n privaatskool in Witrivier sukkel om hulle volle salaris op tyd te kry.

WITRIVIER- Onderwysers by ‘n privaatskool in Witrivier sit hoog en droog by die huis nadat hulle salarisse nie betaal is volgens hulle ooreenkoms met die skool nie.
‘n Onderwyser by Angels Park Academy, Yolanda Venter, sê dat daar ‘n ooreenkoms is dat hulle die 31ste of 1ste van elke maand betaal sal word, maar die onderwysers het egter nog geen betaling ontvang nie.
“’n Boodskap is uitgestuur dat ouers nie hulle skoolgeld betaal nie, maar dit is nie waar nie,” sê Venter.
Die onderwysers beweer ook dat hulle nie geld kan eis by die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) nie omdat daar nie WVF-bydraes van hulle salarisse afgetrek word nie.
Ander onderwysers wil anoniem bly omdat hulle bang is hulle verloor hulle werk.
LEES OOK: Elke bietjie dra by tot spensies vir mensies
Hulle sê dat hulle ook nog nie betaal is nie en dat hulle sukkel om kos op die tafel te sit. Kenneth Banda, direkteur van Angels Park Academy, het in ‘n telefoniese onderhoud bevestig dat die onderwysers nog nie betaal is nie, maar dat hy met die personeel kommunikeer om die probleem op te los.
“Daar is nie veel wat ek kan doen nie, omdat dit koronavirus-grendelstaat is,” sê Banda.
“Mnr Banda eet saam met sy familie en ons moet sukkel,” sê ‘n onderwyser wat eerder anoniem wil bly.
Die onderwysers wonder hoe hulle volgende maand se salarisse gaan ontvang as hulle nie hierdie maand s’n gekry het nie. Hulle sê dat hulle kwaad en teleurgesteld is.
“Vorige onderwysers het ons gewaarsku dat hulle gesukkel het om hulle salarisse te kry, maar ons het gedink dit sal anders wees,” sê Venter.
LEES OOK:“Ons gee om,” sê organisasie tydens inperking
Banda het na sy gesprek met Laevelder ‘n WhatsApp boodskap uitgestuur aan die personeel wat sê dat daar die volgende dag ‘n bietjie geld na al die personeel gestuur sal word sodat hulle kos kan koop.
Hy sê ook dat hulle elke naweek geld sal ontvang tot die grendelstaat verby is.
“Ouers is stil en meeste is nie op datum met hulle betalings nie. Ons het verlede week die geleentheid gemis om die geld te ontvang van die ouers wat nog geld skuld as gevolg van die skielike sluiting,” het Banda op ‘n WhatsApp-boodskap gesê.
Laevelder het ouers gekontak, wat ook verkies om anoniem te bly, en het bevestig het dat hulle al Maart se skoolfondse betaal het.
Banda het ook gesê dat hulle besig is om die WVF-informasie by te werk sodat diegene wat kwalifiseer om hulp aansoek kan doen.
Die personeel het ‘n klein bedrag geld ontvang ‘n dag na Venter met Laevelder gepraat het.
