Local newsNews

NG Kerk Witrivier reik verder met Koskas-projek

Die NG Kerk se Witriviergemeente staan reeds 100 gesinne in die gemeenskap by met kospakkies, maar hulle besef dat die tyd van inperking ’n baie groot invloed gaan op die gemeenskap en het hierdie hulp uitgebrei.

“Ons het elke Maandag ons Koskasprojek, waarmee ons ongeveer 100 gesinne in die Witrivier-gemeenskap help met kos vir die week,” sê Ds Nati Stander van die kerk in Witrivier.

LEES OOK: Skole bly innoverend tydens die koronavirus-grendelstaat

“Ons berei nou ’n bykomende 100 kospakkies voor, wat ons versprei aan enigiemand in nood. Mense is meer as welkom om die kerkkantoor te skakel of ‘n WhatsApp-boodskap te stuur na 079-2238321 om vir hulp te vra. Ons het ’n permit om te mag rondry en kospakkies aflewer.

“Ons Koskas-diens gaan voort, maar ons gee nou ’n pak met kos wat vir ’n maand sal hou, in plaas van ’n week. Ons wil nie hê mense moet dalk die inperkingsregulasies oortree wanneer hulle kom kos haal nie. “Ons is geweldig bevoorreg om te kan help. Mense en ondernemings van die Witrivier-gemeenskap het betrokke geraak het om te help.”

Stander sê dis nie net gemeentelede wat gemeentelede help nie, maar die hele gemeenskap wat deur die kerk bystand bied aan die gemeenskap. “Ons sê baie dankie aan almal wat bydra, dis ’n riem onder die hart om te sien hoe ons ondersteun word om die uitgebreide gemeenskap by te staan.

“Ons bereik natuurlik nie almal met behoeftes nie, maar ons probeer baie hard om mense binne die dorpsgrense te help. Ons het skenkings van avokado’s en piesangs ontvang van boere en dit maak ’n baie groot verskil.”

Die bykomende 100 kospakkies het die kerk omtrent R20 000 gekos. Die voorraad is nog nie alles uitgedeel nie, maar hy sê dit begin nou einde se kant toe staan. “Ons is baie bekommerd dat die nood gaan toeneem soos die inperking voortduur.” Hy sê die gemeente is betrokke by Rustig Ouetehuis in die dorp, waar van die bejaardes ook behoeftig is.

LEES OOK: Laeveld neem afskeid van ‘n ikoon in onderwys en sport

“Ons werk saam met die ouetehuis om die behoeftige bejaardes by te staan in hierdie tyd.” Mense, en ondernemings, wat belangstel om die kerk te ondersteun met hierdie projek kan die kerkkantoor kontak op 079-223-8321.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button