Bergvlam groet ‘n stuk goud na 42 jaar
"Die paviljoen was omtrent net so 10 sitplekke hoog in die middel van die veld in daardie jare." So sê Hennie Golding oor wat hy nog kan onthou toe hy as houtwerkonderwyser in 1981 by Hoërskool Bergvlam begin het.

MBOMBELA -Golding het op een of ander tyd vir al die jaargroepe klasgegee, maar het elke jaar vanaf die begin van sy onderwysloopbaan die matrieks onderrig.
“En in al my jare het nie één ooit my vak gedruip nie,” spog hy. Hy was betrokke by atletiek, waar spiesgooi sy spesialiteitsitem was, en het rugby afgerig. “Ek het by die o/14’s begin en in my eerste jaar daar was Heinecke Meyer een van my spelers.”

Golding het skyfskiet as sport by Bergvlam gestig en het aktief daaraan deelgeneem by die skool. Hy was ook deel van die Mpumalanga Skyfskietkomitee, waar hy as ondervoorsitter, voorsitter en streeksverteenwoordiger gedien het. “Ons het eers begin met .22- en toe met luggewere.
ALSO READ: Support GRIP – buy a face mask
Ek was een van die stigterslede van luggeweerskiet op skolevlak in Suid-Afrika. Saam met Willie van der Merwe van Hoërskool Nelspruit het ek die sport in Suid-Afrika gestig. Die eerste twee skole wat teen mekaar meegeding het was Bergvlam en Garsfontein.
“Gedurende daardie tyd het ek byna 350 provinsiale skuts opgelewer, wat elk Mpumalanga-klere in skyfskiet gewerf het, en ek het 24 SA skoleskuts gehad.”
Hy is steeds aktief betrokke by sy skyfskietklub.Hy het deur die jare houtwerkklasse aangebied, totdat dit in 2010 na siviele tegnologie en tegnologie verander is.
Golding is gebore in Mpumalanga en het net buite Badplaas op ‘n plaas grootgeword. Hy het in Chrissiesmeer sy laerskoolloopbaan voltooi en is toe na Carolina Hoërskool.
Hy het by die Universiteit van Pretoria gestudeer, waar hy hout- en metaalwerk as hoofvakke in sy HOD (bedryfskennis) IV-diploma gehad het. Daarna is hy na die weermag, waar sy diensjare ook by sy jare by Bergvlam getel het.
Golding is in 1980 met Alma van Staden getroud en hulle het ‘n dogter, Marisa. “Sy was die SA skoleskietkampioen in 2013,” vertel hy.
“Skoolhou was nog altyd vir my vreeslik lekker.
In houtwerk kan ‘n mens jou uitleef ten opsigte van kreatiwiteit en die produk wat jy tot stand bring. Dit is waarom ek ‘n loopbaan in die onderwys gekies het, as gevolg van houtwerk.
“Ek het ‘n gesegde en ek het dit altyd ook vir die leerlinge gesê: ‘n Skip sink nie van die water om hom nie. Hy sink van die water in hom. Ek sê ook, ‘Quitters never win and winners never quit’. Ek sal graag wil hê mense moet dit onthou as hulle aan my dink.”
ALSO READ: Egpaar wie al 40 jaar in die Laeveld woon oorleef plaasaanval
