VF+ vra debat aan oor heropening van toerismesektor
Beide die DA en die EFF ondersteun die versoek vir 'n debat, maar die twee partye het verskillende menings oor die heropening van die toerismebedryf.
In ’n mediaverklaring op 27 Julie het die VF+ ingevolge Reël 92 van die provinsiale wetgewer, ‘n blitsdebat aangevra om die benarde toestand waarin die toerismebedryf in die provinsie verkeer, te beredeneer.
Volgens die verklaring het die VF+ in ‘n skrywe aan die Spreker, Busisiwe Shiba, en die wetgewer se sekretaris, Linda Mwale, versoek dat die debat vir Donderdag 30 Julie geskeduleer word. ‘n Antwoord word nog afgewag.

>Foto: Linzetta Calitz
Die party het die debat versoek in ‘n poging om alle politieke partye te verenig en ‘n boodskap aan die president en Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Aangeleenthede (Cogta) te stuur, om die toerismebedryf in Mpumalanga toe te laat om op ‘n verantwoordelike wyse te heropen om dié bedryf en die plaaslike ekonomie te red.
LEES OOK: Jong Laeveldse boer soek ‘n vrou
Jane Sithole, provinsiale leier van die DA, het gesê hulle ondersteun hierdie versoek.
Die party het volgens Sithole al navorsing gedoen wat getoon het dat Mpumalanga ’n terugslag beleef het, juis as gevolg van die bedryf wat steeds geslote is.
Sy het gesê die provinsie het al baie geld verloor en hulle bepleit die heropening van die sektor.

Collen Sedibe, leier van die EFF in Mpumalanga, het op sy beurt gesê hulle ondersteun die voorstel van ’n debat omdat sulke kwessies beredeneer behoort te word, maar hulle ondersteun nie die heropening van die toerismesektor nie.
Sedibe het gesê as dit eers heropen, beteken dit dat interprovinsiale reise weer kan plaasvind en met die angswekkende tempo waarteen Covid-19-infeksies in hierdie stadium toeneem, kan hulle dit eenvoudig nie ondersteun nie.
“Ons is bekommerd; ons kan nie toelaat dat die virus verder versprei word nie.”
LEES OOK: Laaste Liewe Heksie-storie deel van Innibos Digitaal
Die VF+ se verklaring het verder genoem dat die plaaslike toerismebedryf reeds memorandums aan die lid van uitvoerende raad (LUR) vir tesourie en toerisme, Pat Ngomane, oorhandig het.
“Hiermee poog die bedryf om die haglike omstandighede waarin dit verkeer, onder die provinsiale regering se aandag te bring en by die LUR aan te dring om onmiddellik stappe te neem om dit van ekonomiese ondergang te red.

“Terwyl daar gewag word op ‘n reaksie van die Spreker en sekretaris rakende die blitsdebat, is toerisme besig om in duie te stort. Gesinne, werknemers en ondernemings trek swaar en kort voor lank gaan die hele gemeenskap verpletter wees,” het die verklaring afgesluit.
