Geen keer aan tannie Brass se feesviering nie
Brass Schramm kon nie ophou glimlag uit waardering nie en het die besoekers welkom laat voel in haar woning by die aftreeoord.

BARBERTON – Verlede Vrydag het Brass Schramm ‘n emosionele 80ste verjaarsdag by Bob’s Ouetehuis in die dorp gevier. Haar seun, Guenther, wat in Duitsland werksaam is, het ‘n oorweldigende poging aangewend om hierdie mylpaal in haar lewe te laat vier.
Sedert die coronavirus-inperking, is Guenther se vlug uit Duitsland talle kere gekanselleer. Daarom moes hy met iets kreatief vorendag kom om sy ma te wys dat hy wel in gees aanwesig sou wees om haar groot dag spesiaal te maak.
Die verhaal strek tot in Hartebeespoortdam waar Brass se peetkind, Lettie Stander, op ‘n krokodilplaas woon. ‘n Toevallige ontmoeting met krokodilliefhebber, Corné Koekemoer, en sy ouers, André en Maryke, het daartoe gelei dat Lettie vra dat hulle ‘n paar lekkernye en geskenke by Brass aflewer.

LEES OOK: IN FOTO’S: Eerste aand by die inry
“Hulle het uit hul pad gegaan om vanaf Mbombela deur te ry na haar toe om koek en geskenkies te neem. Corné het selfs video gemaak van foto’s wat hy haar sal wys.
“Hierdie mense ken my peetmammie glad nie en is so goedhartig en het besluit om die goeie daad vir haar te doen omrede ons nie daar kon wees nie,” het sy gesê.
Toe die groot dag aanbreek, is André en Corné vroegoggend op pad Barberton toe om vir Brass te verras.
Sy kon nie ophou glimlag uit waardering nie en het die besoekers welkom laat voel in haar woning by die aftreeoord.

LEES OOK: #WysJouWoord vir Afrikaanse taaldag
Volgens Arnie Rossouw, die skakelbeampte by Bob’s, is Brass ‘n goedhartige persoon wat almal laat welkom voel.
“As ek hier kuier, gaan die son onder,” het Rossouw vertel. Om die geleentheid meer spesiaal te maak, het André ook ‘n stuk peridoot as geskenk gegee. Dit is immers Brass se geboortesteen, het hy laat weet.
“Dit kom uit my persoonlike versameling en ek het gedink dit sou ‘n uitstekende geskenk wees,” het hy gesê.

LEES OOK: Virtuele skouspel ‘n eerste vir Hoërskool Bergvlam
Brass het ook die gaste behoorlik laat skater van die lag met ‘n paar staaltjies oor haar seun, Guenther en het laat weet dat hy nie een jaar haar verjaarsdag misloop nie.
Sy het verder vertel dat haar skoonma Saterdag 108 jaar oud is en bygevoeg: “Ek het klaar aansoek gedoen om dieselfde ouderdom as sy te bereik.”
Rossouw het ook die geleentheid gebruik om haar dank teenor die Barberton-gemeenskap uit te spreek. “Ons is vreeslik dankbaar en waardeer hulle ondersteuning omdat hulle so goed na ons oumense omsien,” het sy gesê.
