‘n Breë glimlag na eerste potjie gholf in vier jaar
Die parapleeg, Meiring de Clercq, het in Augustus weer ’n deel van homself wat hy gedink het hy vir altyd verloor het, teruggekry. Danksy ’n spesiale rolstoel kan De Clercq nou weer gholfballe links en regs moker. Sy storie is voorwaar een van uithouvermoë en hoop!
Nadat Meiring de Clercq (33) in 2019 verlam gelaat is ná ’n ongeluk met ’n minibustaxi, het hy gedink hy sal sy gholfstokke vir ewig opsy moet skuif – dalk verkoop.
Maar vier jaar later, op 11 Augustus, het dinge in sy guns begin tel en kon hy weer vir die eerste keer sy gholfstokke nader trek en die setperke opnuut gaan verken.
In Mei 2019 het De Clercq, ’n ywerige sportman, op sy padfiets geklim vir ’n 60 km-oefensessie op die N4.
Hy is van die pad af gedwing deur ’n taxi wat hom aan die agterkant van ’n stilstaande vragmotor in geslinger het.
LEES OOK: Mother honoured in touching dance at Nelspruit Eisteddfod
’n Gebreekte borsbeen, drie gebreekte ribbes en bloeding op die brein, is net sommige van die beserings wat hy opgedoen het.
Ná die ongeluk is hy verlam en moes hy die dinge wat hy liefgehad het, soos gholf, prysgee, maar sy gebrek het nie in die pad van sy drome gestaan nie.
“Gholf was nog altyd ’n groot deel van my lewe, wat net ewe skielik weggevat is,” het hy vroeër vanjaar aan Laevelder gesê.
Die koerant het berig dat De Clercq se familie en gholfvriende ’n skarefinansieringsveldtog op BackaBuddy geloods het om dié kranige sportman weer op die gholfbaan te kry.
LEES OOK: Waardevolle gesprekke by Innibos Boekenaweek
’n Gespesialiseerde rolstoel wat in Duitsland spesifiek vir parapleë, trouens, parapleë wat ’n ronde gholf geniet, ontwerp is, is uiteindelik in Augustus vir De Clercq aangeskaf.
Nie net het sy vriende en familie hom gehelp nie, maars selfs MJ Duffue, wat saam met hom juniorgholf gespeel het en tans in die PGA-toer in Amerika in aksie is, asook die gholfgrotes soos Retief Goosen en Erik van Rooyen.
In ’n Facebook-plasing wat De Clercq op 13 Augustus gemaak het, pronk ’n foto van hom, sy vrou en sy dogtertjie. Al drie met breë glimlagte op hul gesigte.

“Ek het die voorreg gehad om my eerste ronde gholf sedert my ongeluk te speel,” deel hy. “Ek wil graag die kans gebruik om elkeen te bedank wat dit moontlik gemaak het. Hulle is my vriende, familie en mense regoor die wêreld wat hul swaar verdiende geld geskenk het aan ’n veldtog wat ons in Maart via BackaBuddy begin het.
Hierdie veldtog is net nog ’n getuienis, in ’n lys van baie sedert my ongeluk, van die goedheid van die mensdom. Van gee en niks terugverwag nie. God se pragtige hart is deur hierdie wonderlike mense aan die lig gebring.
“Aan elkeen wat my gehelp het, julle het dit nie net vir my moontlik gemaak om weer gholf te speel nie, julle het aan my ’n stukkie van my lewe teruggegee wat ek gedink het ek verloor het. Julle het dit moontlik gemaak om herinneringe buite ons land se grense te skep en weer deel te neem aan iets waarvoor ek lief is,” lees die emosionele boodskap op sosiale media.
De Clercq het destyds aan Laevelder genoem dat hy hierdie nuwe gholfroelstoel sal kan inspan om aan nasionale en internasionale toernooie te deel te neem.
“Ek wil myself graag opwerk om in die US Adaptive Open in Amerika te gaan deelneem,” het hy gesê. Dié is ‘n nasionale kampioenskap wat die wêreld se beste gholfspelers met gestremdhede lok.
Hy koester steeds dieselfde droom, en het na sy eerste ronde gholf waartydens hy van sy nuwe stoel gebruik gemaak het, skertsend op Facebook geskryf: “Suid-Afrikaanse Gestremde Gholf [SA Disabled Golf], maak reg om my in die nabye toekoms te sien!”
De Clercq se inspirerende verhaal is beslis een van uithouvermoë, toewyding en hoop.
“’n Mens se lewe kan in ’n oogwink verander, en jy moet elke geleentheid gebruik om jou lewe te verryk.”


