Geliefde Armand de Jager van Hectorspruit laat groot leemte
Armand de Jager het slegs 'n maand voor hy oorlede is sy 32ste verjaardag gevier.
Armand de Jager, ‘n geliefde inwoner van Hectorspruit vir die afgelope sewe jaar, laat ‘n groot leemte in sy kollegas en geliefdes se lewens, nadat hy onlangs van beserings wat hy in ‘n motorongeluk opgedoen het, gesterf het.
De Jager was op Vrydag, 15 November, ‘n passasier in ‘n bakkie saam met twee vriende op pad terug na Malalane van Mbombela af. Die omstandighede wat tot die ongeluk gelei het is onduidelik, maar iets het veroorsaak dat die bakkie gerol het en toe aan die brand geslaan het.
De Jager is hospitaal toe gejaag vir verdere behandeling, maar is die volgende aand oorlede. Hy het slegs ‘n maand gelede sy 32ste verjaardag gevier.
As enigiemand De Jager se naam in die Onderberg noem, is dit duidelik dat hy geliefd in die gemeenskap was. “Ek weet nie eers hoe om my broer werklik te beskryf nie,” het sy suster, Sonja, aan Corridor Gazette vertel.
“Hy was soos Scooby-Doo: lank en lomp; hy was net fun. Hy was altyd ‘n bok vir sports. Jy kon hom enigiets ge-dare het en hy sou dit doen. Hy was nie bang nie, hy was nie ‘n vreesagtige kind nie, hy het letterlik enigiets gedoen.”

Dit is ook heel duidelik dat Armand se hart direk deur koning Midas geraak was. “Armand was altyd bereid om enigiemand te help. Hy sou letterlik sy laaste R2 aan iemand anders gee, of kos vir iemand wat honger ly gekoop het. Ek het my boetie al verby ‘n boemelaar gesien loop, dan trek hy sy skoene uit en gee dit vir die persoon. Dís die tipe mens wat hy was.”
Volgens Sonja was Armand ‘n groot gamer, en hy was glo baie goed daarmee. “Hy’t nie noodwendig stokperdjies gehad nie. Hy was altyd saam met vriende en het gekuier of hy het tyd saam met sy seun spandeer. Sy kind was basies sy lewe. Jy kon daai twee nie van mekaar af separate nie. Hy was verskriklik lief vir sy seun; hy het alles in sy lewe vir hom gedoen.”
Sonja het haar broer verder as ‘n baie gelukkige mens beskryf. “Armand was spontaan, hy was vol lewe, altyd happy en positief. Hy was lief vir lag en het altyd ‘n grap vir enige situasie gehad. Hy het glad nie daarvan gehou as mense hartseer was nie.”

Armand is in 1992 in Polokwane gebore. Hy en sy familie het in verskeie plekke in Suid-Afrika gewoon, maar hy was in Richardsbaai op skool. Hy het in 2017 na Hectorspruit getrek, en het by Bernadette Vieira Oogkundiges begin werk. Teen die tyd van sy dood het hy as ‘n tegnikus by dié praktyk gewerk.
Bernadette Vieira, die eienaar, het gesê Armand sal ongelooflik gemis word. “Armand was die dierbaarste mens wat jy kon ontmoet. Óf dit die president was wat ingeloop het óf iemand wat hy nie geken het nie, dit maak nie saak nie, hy het almal dieselfde behandel,” het sy vertel. “Al ons pasiënte was so lief vir hom. Hy was net só ‘n goeie mens gewees. He will be sorely missed and never replaced, dit is hoe ons hom sal beskryf.”
Armand se roudiens het Vrydag, 22 November, by die Hervormde Kerk in Mbombela plaasgevind. Hy laat sy seun, Ethan (5), sy suster, Sonja, en sy ma, Ria, agter.
