Vlammies vat vlam by 50-jaar viering
Die gehoor was aangenaam verras deur 'n vertoning van 'n gr. 8-leerling.
Al het die weerburo ‘n koue dag vir Saterdag, 4 Oktober, voorspel, het die Vlammies vir warm musiek en kos by die Vlamiliefees by Hoërskool Bergvlam gesorg. Die skool het vanjaar 50 jaar oud geword en het die inisiatief geneem om die hele stad uit te nooi om dit saam met hulle te vier.

LEES OOK: IN FOTO’S: Hoërskool Bergvlam se Sparki’s vat vlam met konsert
Bekende kunstenaars soos Jakkie Louw, Die Piesangskille, Voodoo Kudu, Just Sam en selfs oud-Vlammies het opgetree. Die gehoor was veral in vervoering toe ‘n gr. 8-leerling, Nomcebo Hadebe, op die verhoog gesing het. Een van die ouers, Wanda Zonke, het ook opgetree en die saksofoon gespeel. Oudleerling Pieter Wolmarans, het die gehoor met sy kitaarspel en sang vermaak.

LEES OOK: Vlammie-matrieks gee terug aan skoolgemeenskap
Die atmosfeer het soos ‘n Innibos-fees in die kleine gevoel met geurige kosstalletjies en musiekvertonings wat die feesgangers tot laatnag laat dans het. Die skool het vroeër vanjaar ook ‘n konsert gehou, Flashback 50’s, wat hulde aan die musiek van 50 jaar gelede, gebring het.

