Mbombela-egpaar sterf in motorfietsongeluk
Die Mbombela-gemeenskap is in rou gedompel na ’n tragiese ongeluk die Smith-egpaar se lewens geëis het.
Die gemeenskap rou ná ’n motorfietsongeluk Saterdag, 16 Augustus, op die Sudwala-Sabiepad, die lewens van Thys (57) en Liz Smith (61) geëis het.
Die egpaar van 20 jaar het aan ’n motorfietsbyeenkoms deelgeneem – ’n fondsinsameling wat deur die Mrs Mpumalanga-finalis, Jana Botha, aangebied is.
Volgens ooggetuies het Thys op ’n draai beheer oor sy motorfiets verloor en teen ’n rots langs die pad gebots.
Thys, wat vir jare lank die hooflandmeter by Barberton Myne was, is op die toneel dood verklaar. Liz is met ernstige beserings na die hospitaal geneem, waar sy Sondag aan haar beserings beswyk het.
LEES OOK: WATCH: Three motorcycle clubs honour late leader Lean van Kranenberg
Sy was die suster van Miggie, en Thys die swaer van Vernon Lancaster, wat hulle as ’n kerndeel van die familie beskryf het.
“Ek verloor nie net ’n swaer nie maar ook ’n vriend, en nie net ’n skoonsus nie, maar ’n vriendin. Ek gaan julle baie mis,” het Lancaster gesê.
Die skok en hartseer is ook duidelik op sosiale media, waar vriende hul liefde en herinneringe deel.
Natasha Coertzen, Liz se dogter, het in ’n roerende Facebook-plasing geskryf:
1 Thessalonians 4:13 NIV
[13] We do not want you to be uninformed about those who sleep in death, so that you do not grieve like the rest of mankind, who have no hope.Die hemel is nou twee engele ryker. Ons rotse, ons steunpilare, ons staatmakers.
Julle los n leë plek in ons almal se harte, die pyn wat ons ervaar is soos nog nooit tevore. Julle glimlagte was altyd so helder soos die son , nou voel die wêreld soos n koue nag in die winter. Julle sal altyd geliefd bly. Tot ons mekaar weer by die hemelpoorte kry.-Die Coertzen’s
Liz se jongste suster, Magdaleen Mouton, het gesê:
“Ek soek nog elke oggend jou boodskap op WhatsApp. Dis byna onmoontlik om te aanvaar jy is weg. As klein dogtertjie wou ek altyd soos jy gewees het. As jong vrou het ek gewens ek kon my huis so mooi maak soos joune. As ouer vrou het ek geweet die Here het my geseën met ’n Ousus wat ek ten volle kan liefhê. Jou vreugde vir die lewe was aansteeklik en hoe ons lekker saam kon lag, sal altyd en ewig een van my gunstelingherinneringe aan jou wees. Rus sag my liewe sussie. Ek is vir ewig lief vir jou.”
‘Word twee mossies nie vir ’n stuiwer verkoop nie? En nie een van hulle sal op die aarde val sonder julle Vader nie;’ Matteus 10:29.
“Soet en kosbaar is die Here se belofte dat julle (ons twee mossies) nie geval het sonder ons Vader nie. Dankie vir die legacy wat julle vir ons los – een van opregte liefde en omgee. Die Here se genade is vir ons genoeg en ons is dankbaar vir die genadetyd wat ons saam met julle kon geniet. Ons is lief vir julle – die Riekerts,” het Thys se kinders gesê.
Mrs Mpumalanga se hoof- uitvoerende beampte, Jacques Lombard, het op sy beurt gesê dat hulle in diep rou is omdat die ongeluk tydens een van hulle finaliste se fondsinsamelingsgeleentheid plaasgevind het.
“Namens Mrs Mpumalanga wil ek ons innige meegevoel betuig. Ons harte gaan uit na die familie, vriende en almal wat hulle geken en liefgehad het. Mag julle krag en troos vind in die herinneringe wat gedeel is, en mag hul siele in vrede rus.”
Die gedenkdiens vir Thys en Liz sal Saterdag, 23 Augustus, om 11:00 by Pneuma Ministries in Riverside plaasvind.