Hard news

Langasem van Mbombela veg om sy lewe in hospitaal

Erge weer het ’n lugredding gekortwiek nadat Mbombela-ultraatleet Werries Oosthuizen in ’n fratsongeluk by die Nelspruit-reservaat betrokke was.

’n Geharde en superfikse 100-myl-atleet van Mbombela veg om sy lewe nadat ’n hoofslagaar tydens ’n fratsongeluk afgesny is.

Werner “Werries” Oosthuizen was vanoggend, 14 Februarie, op pad om in die Nelspruit-reservaat te gaan oefen toe hy ernstig beseer is.

 Werner "Werries" Oosthuizen wat ernstig beseer is tydens 'n fratsongeluk by die Nelspruit-reservaat. > Foto: Facebook
Werner “Werries” Oosthuizen wat ernstig beseer is tydens ‘n fratsongeluk by die Nelspruit-reservaat. > Foto: Facebook

“Werries was omstreeks 06:00 besig om oor ’n palissadeheining te klouter toe die stomp waarop hy gestaan het, omval. Een van die vlymskerp palissadepunte het sy regterarm deurboor en die hoofslagaar afgesny,” vertel Damien Kühn, ‘n goeie vriend van Oosthuizen.

Drie vroue het hom swaar bloeiend langs die pad aangetref en hospitaal toe gehaas.

Sy swaer, Morne Green, sê ’n ambulanshelikopter is uit Johannesburg ontbied om Oosthuizen daarheen te vervoer.

“Slegte weer het die reddingspoging egter gekortwiek, en die helikopter moes noodgedwonge in Belfast land. Emer-G-Med het hom per ambulans van Mediclinic Nelspruit na Belfast vervoer, van waar hy vir noodbehandeling na die Sandton Mediclinic in Johannesburg oorgeplaas is.”

Toe Laevelder met Green gepraat het, is Oosthuizen pas teater toe geneem vir ’n noodoperasie om die gapende wond te heg.

“Hy het geweldig baie bloed verloor,” sê Green, wat sy toestand as kritiek beskryf.

Dit is ’n ontwikkelende berig, en Laevelder sal lesers op hoogte hou van nuwe verwikkelinge.

*Die artikel is aangepas.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button