Maak Kersfees spesiaal vir die Lelievlei-kinders
Steelburger/Lydenburg Nuus wil graag die gemeenskap uitnooi om aan te sluit by die "borg ‘n kind"-veldtog. Die koerant versoek besighede, organisasies of individue om ‘n geskenk te borg vir elk van die kinders en gaan tydens ‘n spesiale Kersdag kompleet met die regte Kersvader poog om vir elk van die kinders in die kamp ‘n geskenk te gee.
LYDENBURG – Hoe verduidelik jy aan jou kinders dat Kersvader moontlik nie dié jaar geskenke gaan bring nie?
Vir sommige kinders is Kersgeskenke, Kersvader se besoek en borde wat kreun onder lekker kos vanselfsprekend deel van Kersfees. Nie noodwendig vir 11 kinders in Lelievlei-deurgangskamp nie. Volgens mnr. Frik Rousseau, direkteur van dié kamp het hulle vorige jare baie ondersteuning geniet tydens die feesseisoen
. “Die jaar het ons egter niemand nie en dis onseker of van die kinders, indien enige, ‘n Kersgeskenk sal kry.”
Daar is tans sewe seuns tussen die ouderdom van een tot 13 jaar en vier dogters tussen die ouderdom van nege en 11 in die kamp.
Steelburger/Lydenburg Nuus wil graag die gemeenskap uitnooi om aan te sluit by die “borg ‘n kind”-veldtog.
Die koerant versoek besighede, organisasies of individue om ‘n geskenk te borg vir elk van die kinders en gaan tydens ‘n spesiale Kersdag kompleet met die regte Kersvader poog om vir elk van die kinders in die kamp ‘n geskenk te gee.
Daar is geen spesiale versoeke vir geskenke nie, dus is enige, ongeag hoe groot of klein baie welkom.
Volgens me. Lizzy Schutte, bestuurslid van die kamp het hulle ook ‘n groot behoefte aan vars groente in die kamp. “Die kinders en ouer mense kry nie genoeg groente in nie. Skoolbenodighede sal ook baie welkom wees. Eintlik sal die kinders tevrede wees as hulle selfs net ‘n klokkie kry.”
Om betrokke te raak by dié projek, kan belangstellendes die koerant se kantoorvir meer inligting by 013-235-1624 kontak. Besoek ook ons webtuiste www.steelburgernews.co.za of facebook Steelburger/Lydenburg News vir die nuutste oor die projek.
Geskenke met ‘n aanduiding of dit vir dit vir ‘n seun of dogter in bogenoemde ouderdomsgroepe is, kan ook by die koerant se kantore afgelaai word. Enige ander vorm van skenkings sal ook waardeer word.
