Bult nie meer hartseer danksy FFA
'n "Gesinnetjie" van Nelspruit is nou veiliger op die pad danksy 'n plaaslike onderneming.

NELSPRUIT – Die Hartseerbult het glo sy naam gekry as gevolg van die atlete van Nelspruit Maratonklub wie se moed in hul skoene gesak het voor hulle die laaste opdraande aangepak het.
Volgens ‘n ander oorlewering is dit dié plek waarheen ‘n paartjie ry wanneer hulle hul verhouding verbreek en die hartseer waarmee dit gepaard gaan.
Sedertdien het die bult nog ‘n reputasie bygekry. ‘n Plaaslike besigheid, FFA Mechanical Services het eerste die geleentheid gehad om met die woelige meerkatjies wat daar bly, kennis te maak. Die bestuurder, mnr. Nic Gant het dit nodig geag om spesiale kennisgewingsbordjies te laat oprig nadat twee van hulle ongeveer ‘n maand gelede raakgery. Een van hulle is dood en en die ander een is na die naaste veearts geneem.
“Vandat die bordjies opgerig is, kan ons letterlik die mense hoor briek trap,” het mnr. Tienie Botha, die voorman van FFA gesê.
Botha het selfversekerd beaam dat die meerkatte definitief aanteel. “Hulle raak net meer en meer,” het hy bygevoeg.
Hy het wel gesê dat hulle aan die begin baie meer by hulle werkswinkel kom kuier het, en dat die besoekies die afgelope maand afgeneem het.
“Die meerkatte pla ons glad nie, hulle is net só vrek oulik,” het hy gesê. Vandat FFA die bordjies opgerig het, was daar geen verdere insidente nie.
Botha het bygevoeg dat hulle gewag het vir die munsipaliteit om te kom “moeilikheid” maak, maar niks het nog daarvan gekom nie.
