Nellies praat pad oop na ATKV-finaal
Twee Nellies het puik gevaar by die onlangse ATKV-redenaarskompetisie.
MBOMBELA – Twee leerders van Hoërskool Nelspruit het opslae gemaak toe hulle albei tot die landswye finaal van die ATKV-redenaarskompetisie deurgedring het.
Frederik van Dyk, ‘n gr. 12-leerder, en Kees-Piet Barnhoorn in gr. 8, het seker gemaak hulle word raakgesien tydens die Mpumalanga finaal in Middelburg wat in Mei plaasgevind het.
Frederik het met ‘n onvoorbereide toespraak, waarvan hulle eers ‘n uur en ‘n half voor die tyd van die onderwerp gehoor het, eerste uit 20 deelnemers in die provinsie geëindig. Die seniors moes besluit of tronkstraf ‘n gepaste straf is en Frederik het hom goed van sy taak gekwyt. Met ‘n advokaat as ma en sy belangstelling in dié rigting kon hy behoorlik standpunt inneem.
Kees-Piet het tweede in die junior afdeling geëindig, waarvan daar ook 20 deelnemers was. Hulle moes ‘n voorbereide toespraak oor sekere vasgestelde temas, wat20 persent getel het, lewer. Daarna moes hulle aan die hand van die bronne ‘n onvoorbereide toespraak, wat 80 persent getel het, skryf en lewer.
Die finaal sal op 14 en 15 Augustus in Buffelspoort plaasvind. Die land se beste redenaars sal dan weer deelneem met hul eie toesprake wat hulle in die tyd moet skryf wat voor die kompetisie toegelaat word.
