Onnies raak bekkig op die krieketveld
Die gasheerskool stuur elke jaar die uitnodiging na die opponent in 'n vreemde taal. Volgens Wolmarans is dit baie moeite om die taal te ontsyfer om sodoende die inligting te kan bekom.
Die jare lange kriekettradisie leef steeds voort en dié jaar het die onderwysers van Lowveld High en Bergvlam weereens bewys dat al raak hulle ouer, is hulle beslis nog nie kouer nie.
Soos Allan Donald, Greame Pollock, Dale Steyn en Jacques Kallis, het hulle hul plek op die veld ingeneem en soos oudergewoonte vir groot opwinding gesorg.
Met ‘n paar beslissings van die skeidsregter wat die wenkbroue laat lig het en waaroor daar waarskynlik nog vir lank getwyfel gaan word, kan jy nie help om te wonder of die koue lafenissie met ‘n skop iets daarmee te make het nie. Dit bly gewis ‘n onbeantwoorde vraag.
Die eerste wedstryd het reeds in 1997 plaasgevind met die doel om ‘n goeie verhouding tussen personeellede van dié twee skole
te bou.
Volgens Pieter Wolmarans, sportkoördineerder van Bergvlam het die twee buurskole se manspersoneel nog al die jare ‘n baie goeie verstand-houding gehad. Daar het egter ‘n hewige stryd tussen die seuns op die krieketveld ontstaan wat daartoe gelei het dat die mans mekaar toe die stryd aangesê het.
Dis die 17de jaar wat dié tradisie voortleef en het sedert 2003 ononderbroke plaasgevind. Aanvanklik was daar nie om ‘n trofee meegeding nie, maar Hennie Golding, wat steeds deel van die Bergvlam-span is, het later een geskenk om personeellede op ‘n daaglikse basis te herinner wie baas en wie klaas is.
Richard Prinsloo van Bergvlam en Willem Steyn van Lowveld High is die enigste twee personeellede wat nog in elke wedstryd gespeel het, terwyl Jacques Kruger se lojaliteit met ‘n glimlag bevraagteken word. Kruger is nog die enigste persoon wat vir albei skole gespeel het.
Sake word oor 30 boulbeurte uitgespook en al die spelers, behalwe een kry drie boulbeurte. Om te verseker dat elkeen ‘n beurt kry, word kolwers met slegs 30 lopies beperk wat aangeteken kan word.
Dit bly egter ‘n kop-aan-kopstryd en van die afgelope 12 wedstryde het Bergvlam ses gewen, Lowveld High vyf en in 2009 moes die spanne met ‘n gelykop-uitslag tevrede wees.
Die dag is met ‘n gesellige braai afgesluit net om seker te maak die vrede word herwin.
Die gasheerskool stuur elke jaar die uitnodiging na die opponent in ‘n vreemde taal. Volgens Wolmarans is dit baie moeite om die taal te ontsyfer om sodoende die inligting te kan bekom.
