FeaturesLifestyleLocal newsNews

Kiewiet kry weer lewe uit Van Rensburg se pen

Jare van stilswye in mense se huise en omstandighede het hom insig in hul lewens gegee en hy gebruik sy kennis om die dorp se inwoners se probleme uit te lig en so 'n vinger in elke vrot kol te druk... Skielik het Kiewiet, die "niemand" van die dorp, 'n doel. Sy lewe het betekenis.

Kiewiet se hele wêreld is binne minute op sy kop gedraai. Hy is ‘n middeljarige alkoholis en af en toe ook ‘n nutsman. Niemand steur hul regtig aan hom nie en sy oplettendheid word deur elke dorpsinwoner onderskat. Maar, dit bied hom op ‘n manier toegang tot mense se lewens en huise…

Die Waarsêer.
Die Waarsêer.

Toe die sirkus vir ‘n tyd in die dorp kom kuier, word Kieweiet, deur middel van ‘n reeks lukrake gebeure, die rol as die sirkus se waarsêer aangebied. Hy word soos ‘n Arabier aangetrek, wat sy identiteit verbloem. Jare van stilswye in mense se huise en omstandighede het hom insig in hul lewens gegee en hy gebruik sy kennis om die dorp se inwoners se probleme uit te lig en so ‘n vinger in elke vrot kol te druk… Skielik het Kiewiet, die “niemand” van die dorp, ‘n doel. Sy lewe het betekenis.

Kiewiet, voor hy die dorp se waarsêer geword het.
Kiewiet, voor hy die dorp se waarsêer geword het.

Die Waarsêer is die gesogte Afrikaanse skrywer Barry Van Rensburg se manier om te wys hoe ons almal ‘n soeke – nee – ‘n hunkering het om van geweet te wees, om ‘n doel te hê.

“Hier is ‘n regte, totale niemand en skielik word daar dimensie aan hom gegee,” vertel Van Rensburg. “Hy word bestempel as ‘n wyse man. Selfs wanneer hy uitgevang word en die dorpsmense sy waarseggings verwerp, kan daar nie gestry word dat dít wat hy gesê het en die insig wat hy gehad het, nog steeds geldig is nie. Sy rol is eintlik lewensbelangrik.”

Hy was onherkenbaar aan die dorp se inwoners.
Hy was onherkenbaar aan die dorp se inwoners.

Die verhaal is gebaseer op ‘n ware storie van ‘n man wat sowat 65 jaar gelede in Amersfoort gelewe het. Van Rensburg het van die regte Kiewiet te hore gekom toe hy eendag ‘n rygeleentheid saam met Huyser Kock van Amersfoort tot by Dundee gekry het. Huyser het hom toe vertel van die man wat die dorp se geheime uitgelap het toe die noodlot hom eendag die waarsêer gemaak het.

“Die gebeure in die boek weerspieël nie noodwendig die realiteit nie,” sê Huyser. “Dit is maar die skrywer se vryheid om te besluit hoe die storie moet loop, maar Kiewiet se karakter is baie akkuraat voorgestel.” Huyser het vir Kiewiet as kind geken. Hy was baie verbaas toe hy eendag ‘n oproep van Barry ontvang het om te sê dat hy lewe aan Kiewiet gaan gee vir ‘n toneelstuk.

Die meisie wat alles omver gegooi het.
Die meisie wat alles omver gegooi het.

“Hy praat nie lelik van Kiewiet nie. Barry gee hom geloofwaardigheid. Dis is ‘n wonderlike manier om sy legende te laat aanhou leef.”

Gehore kan komedie en drama in dié treffende stuk verwag.

Die Waarsêer sal Dinsdag 30 Junie om 18:00; Woensdag 1 Julie om 10:00; Donderdag 2 Julie om 18:00; Vrydag 3 Julie om 10:00 en Saterdag 4 Julie om 16:00 by Nelspruit Stadsteater op die planke wees.

 

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button