LifestyleLocal newsNewsPeople

Paaldans is kos vir die siel

Dit is nie altyd maklik om by oueraande te moet verduidelik wat jy doen om jou lyfie so viets te hou ná twee kinders nie...

MBOMBELA – Die tatoëermerk op haar arm verklap ‘n geskiedenis van mense wat haar veroordeel het oor haar loopbaan. Maar, sê sy, “vroue wat paaldans is nie almal strippers nie”.

Annette Dye is ‘n ma van twee, ‘n fiksheidsghoeroe, ‘n arbeidsterapeut by Dasha Skool vir Gestremdes, en vir die afgelope drie jaar is sy ook ‘n paaldansinstrukteur. Die woorde Never Judge wat op haar arm geïnk is, is om enigiemand te waarsku dat mens nie veel van iemand kan sê voordat jy hulle eers behoorlik leer ken nie.

Daarom moes sy self haar woorde sluk toe sy paaldansklasse in dié stad begin aanbied.

“Die Nelspruit-vroue skok my – en daar is selfs mans wat by my dans,” sê Annette. “Hulle kom met ywer, leer vinnig en word vinnig gemaklik met die opset. Ek kry daagliks dat vroue sê hulle wou dit nog altyd probeer het.

Daar is so ‘n groot mark vir vroue wat moeg is vir die “normale.” Van hulle bring selfs hul kinders klas toe, “maar die kinders bly buite,” sê sy.

Haar twee jong seuns speel al te heerlik buite in die erf van haar studio in Figtreestraat terwyl sy klasse aanbied. Omdat Annette se klasse meer fokus op fiksheid as, wel, stoutigheid, gee sy nie om as haar kinders sien hoe sy oefeningsklasse aanbied nie (alhoewel klasse met dié stoutigheid nie heeltemal buite die kwessie is nie).

“My kinders dink dis baie oulik dat hulle mamma so gemaklik onderstebo kan hang. Baie van hul maats se ma’s dans by my. Ek dans al van voordat hul gebore is so hul is die studio gewoond en baie vroue bring hul kinders. Dit is ‘n fiksheidsklas en die kinders koppel niks anders daaraan nie. Vir hulle is dit dieselfde as gym.”

Maar, natuurlik is dit nie altyd maklik om by oueraande te moet verduidelik wat jy doen om jou lyfie so viets te hou ná twee kinders nie.

“Mens staar stigmas daagliks in die gesig. Mens moet dit maar net laat gaan. Mense hou daarvan om te vooroodeel, maar dit is maar hulle probleem. Die fisiese en sielkundige voordele van hierdie soort dans is amper onbeskryflik. As mens net wil ontspan ná ‘n lang dag – soos wat mens met gym sou maak – is hierdie die perfekte ontsnapping. Ek het ook van my beste vriendinne in hierdie klasse gemaak. Sover was dit maar ‘n harde pad, maar elke oomblik werd. Dit het my lyf en lewe verander.”

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button