Video: Goeie tuiste gesoek vir onafskeidbare honde
"Lola is as't ware Cody se oë en juis daarom kan ons dié twee nie skei nie en moet hul saam aangeneem word."

MBOMBELA – Die hegte band tussen ‘n man en sy beste vriend is gereeld in die kollig, maar dié week het twee hondekinders die harte gesteel en ons aan nog ‘n lewensles herinner – bloed is dikker as water.
Cody en Lola is twee labradors wat sedert Desember hulself by Pro-Life Pet Rescue tuisgemaak het nadat hul eienaar na Namibië verhuis het.
Volgens Monty Pienaar is dié boetie en sussie onafskeidbaar en kan hulle nie sonder mekaar oor die weg kom nie.
Maar die rede agter dié besonderse hegte band strek veel verder as wat die oog kan sien, want Cody is gedeeltelik blind.
“Die veearts het aan ons verduidelik dat Cody gediagnoseer is met retinale loslating wat gepaardgaan met nagblindheid wat stelselmatig vererger,” het Pienaar van Pro-Life verduidelik. Hy meen egter dat dié blindheid hulle allermins keer om hul verkenningstogte voort te sit en dat hulle gereeld die vlaktes invaar as hulle die geleentheid kry.

“Lola is as’t ware Cody se oë en juis daarom kan ons dié twee nie skei nie en moet hul saam aangeneem word,” sê Pienaar. Die honde is tussen drie en vyf jaar oud en behalwe vir Cody se swak sig, is hulle blakend gesond.
Pro-Life bied tans ‘n veilige hawe vir ongeveer 200 honde en katte en maak staat op die publiek om hul te ondersteun. Hulle gebruik 68kg hondekos per dag en sowat 10kg katkos per week.
Pienaar het egter die Laevelders vir hul getroue ondersteuning bedank. “Hier is mense met harte van goud en sonder hulle ondersteuning sal ons nie kan omsien na hierdie liefdevolle diere nie”.
Pro-Life nooi almal uit om Saterdag vanaf 10:00 tot 12:00 ‘n koppie sop en broodjie teen R30 by die sentrum te kom geniet. Die publiek sal ook die geleentheid hê om saam met die honde te gaan stap.
Vir meer inligting oor Pro-Life of om Cody en Lola aan te neem, skakel 079-498-7971 of besoek gerus die Pro-Life Pet Rescue Rehabilitation and Adoption Facebookblad.
Pienaar het ‘n beroep op gemeenskapslede gedoen om gerus ‘n draai te maak indien hulle belangstel om ‘n dier aan te neem.
“Hoe meer mense bereid is om ‘n dier aan te neem, hoe meer kan ons dié wat hulp nodig het, inneem.”

