AnimalsLocal newsNews

Die kat kom (en gaan) weer, botterpootjies en al

Om seker te maak hy gaan soek nie vir 'n vierde keer groener weivelde nie, het Estelle hom vir vyf dae toegesluit en ekstra botter aan sy pote gesmeer.

WITRIVIER – Byna twee jaar nadat ‘n mannetjieskat hom vermoedelik vervies en spoorloos verdwyn het toe sy eienaar, Estelle de Villiers verhuis het, is Grey eindelik weer tuis. Of dit teen sy sin is, bly egter ‘n gewisse raaisel.

Katte is bekend daarvoor dat hulle nie juis hou van trek nie en baie van hulle stap kilometers ver terug na ou tuistes.

Daar is verskeie boererate wat glo keer dat hulle wegloop.

Die ou mense het geglo jy moet botter aan hulle pootjies smeer en hulle in die nuwe huis rou lewer voer.

Grey het 18 maande gelede die pad gevat, botterpote en al, nadat Estelle slegs ‘n blok ver getrek het.

“Ek het hom en my ander twee katte natuurlik saam met my na die nuwe blyplek geneem en hulle vir drie dae in die huis toegesluit. Ek het selfs die ou boereraat gevolg om botter aan hulle pote te smeer om seker te maak hulle loop nie weg nie,” lag sy.

Tevergeefs. Grey het aanhou terugkeer na sy vorige huis.

Estelle vertel hoe sy telkens na die ou adres gery, hom opgelaai, vir ‘n paar dae toegesluit, botter aangesmeer, en vir die beste gehoop het. Die derde keer was Grey egter nêrens te vinde nie.

Estelle sê sy het hom een keer daarna weer gesien, maar kon hom nie in die hande kry nie.

“Hy het maar altyd ‘n wildheid aan hom gehad wat hy nooit kon afskud nie. Na ‘n paar weke het ek gedink hy is dood.”

Of Grey die hele tyd op straat gesit het, is onbekend, maar hy het hom sowat drie maande gelede by ‘n nuwe baas, Judith de Villiers tuisgemaak.

Volgens Estelle was Judith salig onbewus van sy weglopery en het hom toegelaat om daar te bly.

Judith was egter op die punt om Karoo toe te trek en haar twee honde was boonop nie gelukkig met die nuwe toevoeging tot die gesin nie.

Sy het besluit om Grey by Pro-Life Pet Rescue agter te laat. Dieselfde dag nog het die organisasie die nuweling op Facebook bekendgestel en Estelle het hom onmiddellik herken.

Sy en haar dogter het die volgende dag in die motor gespring en hom gaan haal.

Om seker te maak hy gaan soek nie vir ‘n vierde keer groener weivelde nie, het Estelle hom vir vyf dae toegesluit en ekstra botter aan sy pote gesmeer.

Dit blyk toe net die regte resep vir dié rondloper te wees, want volgens Estelle is hy eindelik tevrede met sy tuiste.

“Botter kan nie in Grey se mond smelt nie en hy maak asof hy nooit weg was nie.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button