Dowwe Dolla maak kennis met koeksisters
Die bekende blondine het uiteindelik geleer hoe om régte koeksisters te bak, nes haar ouma Dowe Dolla dit gedoen het. "As ek die ding vleg is hy te lank om in die pot te pas," het sy gesê. "Dit lyk nou eerder soos 'n ou g-string."
Selfs haar bekende suiglekker het ‘n laag deeg en stroop by Innibos gekry! Dowwe Dolla, Ghapi, Maida Miljo en Sunette Barnard van die Vroue Landbou-unie (VLU), het gister koeksisters na hartelus op die kykNET-verhoog gebak.
Die bekende blondine het uiteindelik geleer hoe om régte koeksisters te bak, nes haar ouma Dowe Dolla dit gedoen het. “As ek die ding vleg is hy te lank om in die pot te pas,” het sy gesê. “Dit lyk nou eerder soos ‘n ou g-string.”
Sunette, wat die Vlamlelie-tak van die VLU verteenwoordig het, het vir haar ‘n truuk geleer om haar koeksister korter en meer bondig te maak. “Jy twist hom en bring dan die twee beentjies bymekaar,” het Barnard gesê.
“As die beentjies nie toemaak nie, is dié suster nie ‘n ‘koek’ nie…”
Huletts Sugar het al die bestanddele vir hierdie bakvertoning geskenk. “Huletts se suiker is maar die beste suiker om jou stroop mee te maak,” het Barnard gesê.
“Hulle suiker is suiwer en maak ‘n deurskynende stroop as jy hom kook. Baie van die ander suikers moet mens eers deur ‘n kous sif om van die onsuiwerhede ontslae te raak.”
Die geheim van ‘n goeie koeksister, sê Barnard, lê in die stroop. “As jy hom breek, moet die stroop omtrent daaruit tap. Hy moet met stroop deurweek wees. Eers dán is dit ‘n koeksister, anders is dit ‘n droë suster en niemand hou daarvan nie.”
Die seremoniemeester, Ghapi, het die meeste van die vertoning eenkant gestaan en vir die penarie gelag.
Die koeksistervertoning vorm deel van ‘n koeksisterkompetisie wat die hele week in die kykNET-tent gehou word.
Gehoorlede kry die geleentheid om koeksisters van al vier deelnemers te proe en dan ‘n kruisie langs die naam van hul gunsteling te trek. Die algehele wenner van die kompetisie word Saterdag om 18:00 op die kykNET-verhoog aangekondig.
Jak de Priester is Donderdag die kuiergas. Moenie dié stroperige soetigheid misloop nie.