Kat se kind stap meer as 20km terug huis toe
Dae het later weke geword en daar was geen nuus nie. Tot sowat 'n week gelede.
MBOMBELA – Donsie is ‘n lewende bewys dat ‘n kat inderdaad nege lewens het. Sy het ‘n staptog van meer as 20 kilometer terug na haar oorspronklike tuiste onderneem en oorleef. Sy is wonderbaarlik nié doodgery of deur ‘n roofdier of ‘n uil opgeraap nie.
Haar eienaar, me. Yolande Kriel het op 31 Mei na die stad verhuis vanaf ‘n plaas in die Uitkyk-omgewing, sowat 24 kilometer buite die dorp.
Om seker te maak Donsie en haar maat vat nie die pad nie, het Yolande dié twee viervoetiges vir ‘n paar dae in ‘n kamer toegemaak sodat hulle aan hul nuwe omgewing gewoond kon raak. Katte is bekend daarvoor dat hulle nie maklik trek nie en nie sal skroom om terug te stap na hul ou huise nie.
Kriel het mettertyd die venster oopgemaak sodat die katte die nuwe wêreld kon verken en dié twee het doodtevrede na hartelus gekom en gegaan. Op 7 Junie het Kriel se honde egter die katte geskraap. Donsie het besluit genoeg is genoeg en die hasepad gekies.
“Nou en dan verwilder ons honde die katte, maar hulle kom altyd weer terug, want hulle is die honde gewoond. Dié keer het Donsie egter nie teruggekom nie,” het Kriel vertel.
Salig onbewus van dié ka(t)nallie se staptog terug na Uitkyk, het Kriel, rasend van bekommernis, na Donsie gesoek. “Ek het oral op Facebook geadverteer en gehoop iemand bel my. Donsie het ‘n pienk bandjie aangehad met haar naam en ons telefoonnommer op,” vertel sy.
Dae het later weke geword en daar was geen nuus nie. Tot sowat ‘n week gelede. Kriel se voormalige bure op Uitkyk het haar gekontak en gesê hulle het ‘n kat by die huis opgemerk.
“Ek en my dogter is dadelik daarheen om haar te gaan soek, maar na ure se geroep kon ons haar nêrens opspoor nie en is met leë hande terug huis toe.”
Die bure het Kriel egter Maandag weer geskakel met die verblydende nuus dat hulle daarin kon slaag om Donsie die huis in te lok.
“Ek het dadelik gery en tot my groot verbasing was dit werklik sy,” het Kriel verheug vertel. “Sy was baie honger, moeg en vuil. Sy het haar nie eens teëgesit nie en seker geweet dat haar ‘long walk’ verby was.”
Na ‘n warm bad, pels droogblaas en borsel, was Donsie weer ‘n “dame” en het vir ure doodtevrede in haar eienaar se arms gelê en slaap.

“Ek het nooit ophou hoop nie, maar mens twyfel later of jy hulle weer gaan sien. Vandag wil ek graag vir elkeen sê dat hulle nie moet moed opgee nie en aanhou soek na hul diertjies.”
Donsie sterk intussen in die gerief van haar eienaar se kamer aan en word behandel vir sonskade aan haar ore. Sy het ook heelwat gewig verloor.
Kriel sê sy het tydens haar soektog na Donsie elke moontlike webwerf besoek en gesien dat katte hulle weg vir kilometers ver vind danksy hul uitstekende reuksintuig.
“Hulle loop al agter die reuk van hul vorige tuiste aan – dit is werklik ongelooflik,” het sy verstom bygevoeg.
Sy het ‘n beroep op mense wie se diere wegloop gedoen en gesê hulle moet sommer heel eerste by hul vorige woonplek gaan kyk of die diere nie dalk soontoe teruggekeer het nie.
Lees meer oor Grey, ‘n kat met soortgelyke storie.
