Einde van wilduitdunning nou in sig
MARLOTHPARK – Die noodsaaklike uitdun van wild in die bosnedersetting is ‘n groot probleem. Vererger deur ‘n droë tydperk en die aanbreek van die volgende paarperiode, lyk dit darem of dinge einde se kant toe staan. Corridor Gazette se korrespondent in Marloth gee ‘n oorsig na ‘n gesprek met me. Pat Wilmans, voorsitter van die …

MARLOTHPARK – Die noodsaaklike uitdun van wild in die bosnedersetting is ‘n groot probleem. Vererger deur ‘n droë tydperk en die aanbreek van die volgende paarperiode, lyk dit darem of dinge einde se kant toe staan. Corridor Gazette se korrespondent in Marloth gee ‘n oorsig na ‘n gesprek met me. Pat Wilmans, voorsitter van die Marlothpark Eienaarsvereniging, ook as die MPOA bekend.
Die wildbestuur en uitdunning in Marloth is ‘n omstrede kwessie en jaarliks herhaal dieselfde scenario hom met rampspoedige gevolge vir die omgewing. Nkomazi Plaaslike Munisipaliteit (NPM) het onderneem om gedurende die jagseisoen die wild te verminder wat nie plaasgevind het nie. Gedurende Oktober en November 2014 wou hulle dié aksie in werking stel, maar die gemeenskap het daarteen geskop weens die feit dat meeste van die vroulike diere gedurende die tydperk dragtig was. Die gevolg hiervan was dat die dierebevolking, in besonder rooibokke en vlakvarke, met ‘n onrusbarende spoed toegeneem het en drakrag van die weiding heeltemal oorskry is. Teen Oktober 2014 was die situasie om die minste te sê plofbaar. NPM het planne gemaak om die diere Lionspruit toe te skuif waar hulle gejag sou word. Lionspruit is Marlothpark se eie wildreservaat, wat vir die gebruik van inwoners en besoekers beskikbaar is. Die dorpie se inwoners het die diere ten alle koste uit die bomas, juis vir die doel, probeer hou. Sekere eienaars het ook regstappe geneem om te voorkom dat die mak diere in Lionspruit gejag word. MPOA het op die stadium ingegryp om die situasie te ontlont. Daar is samesprekings met NPM en die Mpumalanga Toerisme- en Parke-agentskap (MTPA) gehou om ‘n oplossing te probeer vind wat die ondersteuning van die park se eienaars sou verseker. Hierdie onderhandelings was suksesvol en positief vir al die betrokke partye en daar is ooreengekom om vroeg in 2015 met die uitdunning te begin. MPOA het inisiatief geneem en Rhengu Environmental Services aangestel om ‘n studie van die veld se toestand te maak en om ‘n rehabilitasieprogram gereed te kry. Hierdie fooie is deur donasies van grondeienaars betaal. Die grootste wilduitdunningsprojek in die geskiedenis van Marlothpark het in 2015 op ‘n positiewe noot afgeskop met die Wildlife Vets wat gekontrakteer is om die moeilike taak te verrig. Heelwat struikelblokke het voorgekom wat wye mediadekking geniet het. Die verkoop van diere aan reservate in Mosambiek wat nie gerealiseer het nie, was een van die hoofstories waaroor berig is. Daar is gepoog om die rooibokke met behulp van ‘n helikopter in bomas in te jaag maar helaas was die bokke te mak en het dié oefening weinig vrugte afgewerp. Die laaste uitweg was om die diere te skiet. Wildlife Vets het Mauricedale Game Abbatoir gesubkontrakteer wat die karkasse sou verwerk. ‘n Nuwe permit is deur die MPTA uitgereik en die uitdunning het op 29 Junie begin. ‘n Groot uitdaging op dié stadium was dat dit skoolvakansie was en Marloth vol vakansiegangers was. Die kontrakteur het egter die situasie briljant en profesioneel gehanteer en alhoewel hulle voortgegaan het, is die publiek se veiligheid te alle tye eerste gestel. Wildbewaarders en mense in hulle privaat hoedanigheid het ook die proses deurlopend gemonitor. Die skole het op 20 Julie heropen, maar daarmee saam was die uitdunningspermit se vervaldatum ook net ses dae later teen die vervaldatum wat 26 Julie was, het daar nog 167 rooibokke oorgebly wat verwyder moes word. Die volgende struikelblok was dat Mauricedale Abbatoir vir Augustus vol bespreek was en die karkasse nie daar verwerk kon word nie. Met die reeds oorbeweide veld en die aanhoudende droogte het die situasie by die dag versleg. Weereens is daar samesprekings deur die MPOA met die munisipaliteit gereël en is daar ooreengekom dat die oorblywende rooibokke deur die wildbewaarders van kant gemaak sou word en die karkasse weggedoen mee sou word in Lionspruit. Laat Vrydagmiddag op 14 Augustus is die permit hernu en die uitdunne het weer die Sondag begin.
Die vervaldatum van die permit is 30 Augustus en almal se hoop is daarop gevestig dat die volle kwota dan verwyder sal wees. Alhoewel die uitdunproses ‘n geweldige traumatiese tydperk vir al die betrokke partye was, het dit goed verloop ten spyte van die struikelblokke wat oorkom moes word. Die volgende groot uitdaging vir die inwoners en eienaars gaan die implementering van die rehabilitasie-program, opgestel deur Rhengu Enviromental Services, wees. Ons glo die gemeenskap gaan saamwerk en ‘n reusesukses hiervan maak.
