Kom luister na rugby se legendes en maak drome waar
Die eersterugbyspan van Laerskool Bergland hou Vrydag 'n fondsinsameling om na Namibië te toer.
Laerskool Bergland se eersterugbyspan is op pad op toer. As die Mpumalanga wenners gaan die seuns vanaf 20 Maart in Bloemfontein die skool verteenwoordig by die Grey College Rugbyfees.
Vandaar sal die span vertrek na Namibië waar hulle sal uitdraf teen skole van Walvisbaai, Swakopmund en Windhoek.
Die groep seuns van 24 sal altesaam meer as 6 000 kilometer op hierdie epiese toer. Om hulle te help, bied die skool Vrydag ‘n geleentheid aan waar belangstellendes Springbok rugbylegendes en bekendes kan ontmoet.
Dit beloof om ‘n baie spesiale aand te wees met gaste wat Naas Botha, Darius Botha, Jimmy Stonehouse, Gerrie Sonnekus en Steval Pumaspelers sal insluit.
Dié voortreflike funksie vind by Emnotweni Arena plaas, en het ten doel om fondse in te samel vir die besonderse span se toer, sodat die hele spannetjie die toer kan bybring.
Kostes beloop R6 000 vir ‘n tafel van 10 gaste en sluit in ‘n drie-gang maaltyd in. Pieter Smit sal boonop vir die aand se vermaak sorg. Navrae en besprekings: Heidi Visser by 082-337-0613.
