Spoorhonde reg vir helikopterdiens
Biltong en droë wors is as snoeperye gebruik om die honde wat stropers moet vastrek in die Nasionale Krugerwildtuin op te lei om met selfvertroue in die helikopter na 'n area te ry waar stropers vasgetrek kan word.
SKUKUZA – Net die beste biltong en droëwors is goed genoeg vir die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) se spoorhonde-in-opleiding. Hulle word tans gewoond gemaak om in ‘n helikopter te vlieg en word gepaai met hierdie versnaperinge wat al die pad van Thabazimbi af kom.
Hondeteler en -afrigter, Gaven Holden-Smith van HSTC, het so pas ‘n paar dae saam met Badger en Bailie, twee van die 10 maande oue spoorhonde van die bloedhond/ Doberman-kruising wat hy geteel het, ‘n werksbesoek in die NKW deurgebring.
Saam met Johan de Beer, hoof van die NKW se K9-eenheid en sy span, het hy die honde opgelei om in helikopters te klim, sonder vrees om daarin te vlieg en dadelik ‘n spoor van ‘n stroper te neem.
By De Beer het hulle ‘n goeie rapport gekry om huis toe te neem voordat hulle weer eersdaags permanent diens moet doen. “Hulle is goed opgelei en gewoond aan helikopter vlieg. So gewoond dat hulle selfs in die helikopter slaap.” Dit het nie oornag gebeur dat die langoorbrakke gemaklik in ‘n helikopter spring waarvan die skroef lawaaierig draai nie.
“Hulle is eers van ons opleidingsplaas in Thabazimbi na ‘n vliegskool geneem waar die helikopter kleiner is. Die SANParks Squirrel-helikopter is groter en raseriger, maar hulle het dit goed hanteer,” het Holden-Smith gesê.
Sy wenresep is om vooraf biltong en droëvors wors rondom, onder en in die helikopter te strooi wat die snuffelhonde maklik kan opspoor en verorber.

“Die lokaas maak hulle gewoond aan die lawaai en beweging asook aan al die nuwe reuke en die loodse,” sê Holden-Smith.
Die honde klim in maar kan nie rondbeweeg nie en neem gou hul plekke soos BBP-passasiers op die sitplekke in. Hulle kyk by die vensters uit en stel belang in wat om hulle aangaan.
“Hulle blaf gereeld vir die helikopter se skadu op die grond,” lag Holden-Smith.
Wanneer die honde aan die werk moet spring en ‘n stroper se spoor volg, spring hulle fluks uit. Nadat die verdagte aangekeer is, die honde kalm geword het en hulle gerus het, wag daar weer vir hulle ‘n beloning. Die happie word so ‘n entjie van die misdaadtoneel geëet. Nou kom die groot bederf. “Die honde moet hulle speurtog geniet en iets hê om na uit te sien. Dink maar aan die Viennas as hul salaris. Hulle moet iets hê om voor te werk.”
