Hard newsLocal newsNewsSANParks

Dokters red hiëna-slagoffer se regteroog

Sestien dae gelede is Erco Janse van Rensburg (15) by Krokodilbrugkamp in die Nasionale Krugerwildtuin deur 'n hiëna aangeval. Vir sy ouers is vandag die 16de dag van "ongelooflike genade en wonderwerke."

MBOMBELA – “Erco is ‘n yster!” sê Cashandra Janse van Rensburg oor haar seun wat verlede maand by Krokodilbrug in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) deur ‘n hiëna uit ‘n tent gesleep is. Die tiener is ernstig beseer toe die dier hom in sy gesig gebyt het en hy moes sedertdien verskeie operasies in die Milpark Hospitaal ondergaan.
“04:37 op 26 Junie is ‘n oomblik wat ek nooit sal vergeet nie,” sê Cashandra.

Erco het sy linkeroog verloor. Geneeshere was in staat om sy regteroog te red ten spyte daarvan dat die dier se tand die oogsenuwee en traanklier deurboor het. “Boels se herstel is ‘n groot wonderwerk. Die Here is goed. Al die tyd! Ons kan daarvan getuig,” sê sy.

Haar seun is nou in die hoësorgeenheid, maar het reeds ‘n entjie gestap nadat die asemhalingspype verwyder en hy van die ventilator afgehaal is. Sy ma glo dit is sy innerlike krag en sin vir humor wat hom deurgedra het, tesame met al die gebede en ondersteuning.

In die begindae tydens die vele operasies om vel van sy neusvleuels én dooie weefsel te verwyder, was die groot uitdaging om infeksie te voorkom. Erco het aaklige nagmerries ervaar. Sy ma en pa Erno (Ertjies) moes deurnag by hom waak om hom te kalmeer. Hy het ook sielkundige behandeling ontvang om die ervaring te verwerk. Van die steke is reeds uitgehaal.

“Sy gesiggie lyk pragtig!” sê sy ma.

Op die vyfde dag na die aanval kon Erno reeds op ‘n bordjie skryf toe hy as gevolg van die pype in sy keel nie kon praat nie en die eerste woord wat hy geskryf het was “sjokolade!”

Cashandra is ‘n gebore Vrystater wat meer as 12 jaar aan die polisie as gyselaaronderhandelaar verbonde was. Die afgelope paar jaar is sy ‘n tuisblyma wat haar kinders tuisonderrig gee.

Erco het susters, Zilia (16) en Kyla (11). Die hegte gesin woon in Centurion waar Erno ‘n familie-onderneming in grondverskuiwing saam met sy broers en neefs bedryf.

“Ek het als beleef in my werk, maar dit het nie altyd my hartsake geraak nie. Nou voel dit vir my asof ek ‘n blitskursus in diep omgee gedoen het! Die seerste besef was dat ons as mens magteloos is,” sê sy. Sy en Erno het saam met Johann Janse van Rensburg, Erco se oom, sowel as haar dogters, beurte gemaak om by Erco te sit.

Johann het Erco weggeruk van die hiëna toe hy van die geraas in die kamp wakker geword het. Sy erken sy het soms die afgelope twee weke moedeloos geword as Erno wéér teater toe moes gaan. Sy het besef die geneeshere doen ook voorkomende werk.

Erco en sy ouers is gereelde besoekers aan sy oupa Jannie Janse van Rensburg se Kalahariplaas naby die grens van die Kalahari Gemsbokpark. Die gesin is lief om aande onder die Kalaharisterre te slaap.

“Ek het geweet ou Boels sal regkom toe hy van die ventilator afkom en hy tergerig gekyk het hoe lank hy sy asem kon ophou,” verduidelik sy.

Erco het al ‘n goue medalje in karateka by die Wêreldkampioenskappe in Portugal verower.Toe hy eers kon praat het hy almal vermaak met hoe hy die “hiëna uit ‘n helikopter gaan bykom as hy hom ooit sou sien!” Hy gesels oor die aanval en alles wat hy onthou.

Die ondersteuning wat die gesin van ander gesinne ontvang wat ook hul kinders tuis onderrig, sowel as van vriende en belangstellendes, maak ‘n groot verskil.

Erno Janse van Rensburg en sy seun Erco.
Erno Janse van Rensburg en sy seun Erco.

Sy waardeer ook die Denny-gesin, wie se sesjarige seun, Kellan, sowat agt weke gelede in ‘n konsessie naby die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) deur ‘n luiperd aangeval is. Kellan het vir Erco in die hospitaal gaan kuier. Die “engel” in Cashandra se lewe was ‘n 18-jarige man wat as 12-jarige self deur ‘n hiëna aangeval is, wie sy merkwaardige herstel met Erco kom deel het.

“Vandag kan jy nie sien dat iets met hom gebeur het nie. Dit is ons wens vir Erco,” sê sy. Deurgaans bly sy hoop dat haar kind “ou Boels sal bly. Dat sy goeie hart en sy liefde vir mense hom sal deurtrek”.

Intussen moet daar steeds teen infeksie gewaak word terwyl die wonde aan Erco se gesig genees. Die beenweefsel in sy gesig is met plate geheg wat ses weke sal neem om vas te groei en oor die volgende jaar versterk sal word. Volgens Cashandra is die swelling op sy lyf ook veel minder en is sy kleur weer gesond.

“Dit is die begin van ‘n nuwe lewe vir ons almal. Dinsdag is dit dag 16 vir ons, die 16de dag van ongelooflike genade en wonderwerke.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button