‘n Smakie van die ou Nelspruit herleef by Costa do Sol
Dit was voorwaar 'n wedersiens van ou Nelspruiters met die onlangse heropening van die nuwe Costa do Sol in Sonpark.
MBOMBELA – Mens sou dink dis weer 10, 20 of selfs meer jare gelede met die bekende Americano and Guiliana Zampoli wat gaste by die deur gegroet en besorgd om die tafels gekloek het.
Al die ou gaste was daar toe die nuwe eienaar, Stevens Mashaba die volgende era ingelui en belowe het dat al die ou gunstelinge nog net so op die spyskaart beskikbaar is.

Die kok Alberto Chirindza, wat die Zampolis nog destyds uit die Onderberg gebring het, was ook in die kombuis, net om seker te maak dinge gebeur voortaan op die regte manier. Soos die Zampolis is hy ook deesdae ‘n man van Johannesburg.
Guiliana vertel dat hulle nie die eerste eienaars van Costa do Sol was toe dit in die laat jare tagtigs onder in die nuwe Nelcity Sentrum geopen het nie.
LEES OOK: Small-town chef has what it takes to impress nationally
Dit was die familie Pereirra – en Americano was toe nog ‘n sitrusboer by Malelane.

Met besoeke aan Nelspruit het hulle graag hier aangesit en toe die plek eendag op die mark kom, het die egpaar besluit om bietjie van beroepsrigting te verander.
Binne ‘n maand het die Perreiras hulle alles geleer wat daar was om te weet en Guiliana kon met haar nuwe spyskaart – waarby sy ‘n stewige skeutjie Italiaanse kookkuns by die bestaande Portugese aanbod ingegroer het – begin.
Vir baie jare was Casa do Sol die guntelingplek om uit te eet in Nelspruit en terwyl baie gekom en gegaan het, was Costa altyd daar.

Later op die onderste vlak van Absa-plein, toe kortstondig terug by Nelcity en nou hier midde-in Mbombela se boulevard van eetplekke by Sonpark.
