Local newsNews

Moenie mishandeling net stil-stil verdra nie

Gemeenskapslede word aangemoedig om mishandeling, veral van kinders, aan te meld en hulp by die plaaslike CMR-kantoor aan te vra.

KOMATIPOORT – Geweld teen vroue en kinders is ‘n ernstige probleem regoor die Onderberg en een wat die plaaslike CMR-kantoor na aan die hart lê.

Die organisasie bied maatskaplike dienste aan al die gemeenskappe in die Onderberg, soos om kinders na ‘n plek van veiligheid te neem of in pleegsorg te plaas, asook om berading vir kinders, gesinne en egpare aan te bied om hulle deur moeilike tye te help.

Een van die CMR se prioriteite is om kinders teen mishandeling en verwaarlosing te beskerm en dit is ‘n grootse taak.

Baie mense is egter nie seker wat mishandeling is, wat dit behels en wat die gevolge is nie.

Volgens die Kinderwet is mishandeling doelbewuste skade aan ‘n kind soos aanranding, seksuele misbruik, die toelaat van seksuele misbruik, die boelie van ‘n ander kind, ‘n arbeidspraktyk wat ‘n kind uitbuit en die blootstel en onderwerping van ‘n kind aan gedrag wat die kind sielkundig of emosioneel kan skaad.

Daar is verskeie hooftipes mishandeling. Finansiële mishandeling is daarop gemik om die slagoffer se finansies te beheer deur, byvoorbeeld, uitermate streng monitering, weerhouding van basiese noodsaaklihede en selfs die weerhouding van finansies vir mediese behandeling nadat iemand in huishoudelike geweld beseer is.

Sielkundige mishandeling is wanneer iemand hulle intieme maat, kind of afhanklike volwassene gereeld sielkundig afkraak, op hulle skree, hulle dreig en manipuleer om dinge te doen wat hulle negatief beïnvloed. Gevolge sluit depressie en paniekaanvalle in.

Seksuele mishandeling is enige soort onwelvoeglike kontak waartoe daar nie toestemming verleen is nie. Dit sluit seksuele teistering en verkragting in en mans en vroue van enige ouderdom kan misbruik word.

Fisiese mishandeling, wat algemeen as die “hoof”-mishandeling beskou word, kan enige gewelddadige kontak insluit – klap, knyp, slaan, gooi met items, aanranding met iets of enigiets wat fisiese pyn en ongemak veroorsaak.

Slagoffers word aangemoedig om die saak met ‘n berader of gesaghebbende persoon te bespreek. Gevalle kan ook by die CMR-kantoor in Komatipoort, asook die naaste polisiekantoor aangemeld word. Opgeleide persone sal daarna raad en bystand aan die slagoffers kan gee oor die volgende stap.

Indien erge ingryping nodig is, kan hulle vir ‘n beskermingsbevel by die hof aansoek doen. Dit stel grense aan die kontak wat die oortreder met die slagoffer het.

Vir meer inligting, skakel CMR Komatipoort/Malalane by 013-793-8391 of stuur ‘n e-pos na cmrkomatipoort@cmroos.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button