Vermoorde Barbertonner se bakkie gevind
Die Chevrolet Corsa-bakkie, wat aan die slagoffer behoort, is Dinsdagoggend in Branderstraat gevind.

MBOMBELA – Die polisie soek steeds na die vyf verdagtes wat Peet van Es in ‘n plaasaanval vermoor het. Hoewel sy gesteelde voertuig gevind is, wou die polisie nie bevestig of dit enige leidrade opgelewer het nie.
Van Es, ‘n Nederlandse immigrant, is verlede Vrydagaand by die Mosely-plaas op dieR40 buite Barberton vermoor. Brig. Leonard Hlathi het aan die media bevestig dat die saak van moord en huisbraak ondersoek word.
“Die verdagtes het elektriese toestelle gesteel, dit in die slagoffer se silwer Cheverolet-bakkie gelaai en weggery,” het Hlathi gesê.
Van Es se bakkie is gevind nadat ‘n gemeenskapslid die artikel in Dinsdag se Laevelder gelees en toe die voertuig in Branderstraat opgemerk het.
Die persoon het Hi-Tech Nelspruit geskakel en die reaksiebeamptes, mnr. Dirk Bierman en mnr. Callen Herbst, was eerste op die toneel. Hulle het ‘n wakende oog oor die voertuig gehou totdat die polisie dit kom verwyder het.
“Die besighede in die straat se personeel het genoem dat die bakkie reeds Maandag hier was; dit mag al van die naweek af hier staan,” het Bierman gesê.
“Daar is grond op die bestuursitplek, en dit lyk of die radio gesteel is, maar ons wil glad nie die voertuig oopmaak om te kyk nie. Die bewyse moet so goed as moontlik gepreserveer bly vir die polisie om na te gaan,” het Herbst vertel.
Sers. Gerald Sedibe het aan Laevelder gesê dat die voertuig tans in die polisie se besit is, en dat ‘n forensiese ondersoek op die bakkie geopen is. Geen verdere inligting kan in hierdie stadium bekendgemaak word nie.
Vir die oorspronklike artikel, lees meer:
Farm attack: Man begged for life

