Hope pret en vermaak maak fees heel gesellig
Die MTB Hectorspruit Buffalo Festival het op 10 Junie 'n klomp musikale vermaak, stalletjies en pret vir jonk aan Onderbergers gebied.
HECTORSPRUIT – Daar is Saterdag behoorlik gekuier, gesing en gedans tydens die MTB Buffalo Festival by die Buffalo Hotel.
Na verlede jaar se suksesvolle fees het die organiseerders gepoog om aan die gemeenskap selfs meer te bied en hulle het nie teleurgestel nie.
Die geleentheid het vroeg afgeskop saam met die MTB Hectorspruit-fietsren en ondersteuners en helpers kon die winterkoue met warm koffie en pannekoek verdryf.

Stalletjies met juwele, oudhede, kuns en allerlei interessante projekte, asook smullekker Portugese kos soos garnale, ciabatta, hoender en rissoles het gesorg dat niemand met leë hande rondgeloop het nie. Die biertent het ook vir ‘n gesellige atmostfeer en nat kele gesorg, terwyl vrywilligers by ‘n KANSA-stalletjie feesgangers se hare in ‘n reënboog van kleure met spuitverf getooi het.

Die kinders kon hulleself besig hou by ‘n skuimstalletjie en het ook op springkastele gebaljaar.

Van vroeg tot laat het kunstenaars soos Bibi en Gideon Hunter musiek gemaak, met Ray Dylan wat die aand afgesluit het. Jacaranda FM-persoonlikheid, Maljan was die dag se aanbieder en het die gehoor met pittige sêgoed, grappies en hope kompetisies vermaak.

Die organiseerders hoop om die fees volgende jaar nog meer uit te brei en dit een van die hoogtepunte op die Onderberg se sosiale kalender te maak.
