Vind uit wat agter die skerms in die toneelbedryf aangaan
Francois Jacobs en Adriaan van As bied aan feesgangers 'n eerlike blik op die lewe van akteurs en laat die gehoor skaterlag met 'n paar staaltjies van hul avonture.
As jy ooit gewonder het hoe dinge aan die ander kant van die kassie lyk, is #DitWatJulleNieWeetNie die antwoord.
Dit bied ‘n eerlike blik op die lewe van kunstenaars en hul verhoudings met mekaar en die gereg wat ‘n mens laat lag, diep dink en ook simpatie wek.
Francois Jacobs en Adriaan van As storm die verhoog op as deel van ‘n “grensoorlog-drama”, maar probleme met die klank toets Franna se geduld en hy storm weer van die verhoog af.

Adriaan begin daarna aan die gehoor verduidelik hoe onstandvastig die toneelbedryf is en vaar uit oor al die probleme wat akteurs in die gesig staar.
Francois, wat intussen sy weermaguniform uitgetrek het en sak-op-die-rug die gehoor inloop, beaam dit en sluit weer by Adriaan aan.
Terwyl hulle gesels oor hoe moeilik dit is om rolle te kry, noem hulle medeakteurs en bemark sommer ‘n paar ander Innibos-produksies.
Die twee verduidelik dat daar geen finansiële stabiliteit vir hulle is nie en dat die industrie hulle nie toelaat om groot te word nie. Hulle enigste ontsnapping is om soms daardie innerlike kind op ‘n play date te vat en te gaan drink.
Die tweetjies kry dan biere, klink blikkies en maak hulle tuis op stoele op die verhoog. Hulle besluit om ‘n paar van hulle kuierstories met die gehoor te deel.

Daarna volg ‘n paar skreeusnaakste staaltjies oor hulle botsings met die gereg en hoe veterane hulle al gehelp en geïnspireer het.
Adriaan en Francois se vriend, Viljé Maritz maak ook ‘n draai op die verhoog om homself te vertolk in staaltjie waar die drie besope akteurs in ‘n jaagtog met verkeerspolisie betrokke was.

Hulle beaam dat die mense in hulle bedryf soos een groot familie op ‘n sinkende bootjie is. Hulle sal egter daar bly ter wille van “vryheid, familie, passie… en natuurlik vir julle vermaak”.

Daar word weer genoem hoe moeilik die bedryf is en hulle nooi enige aspirantakteurs, of mense wat nog altyd graag op die verhoog wou wees, om vorentoe te kom.
Adriaan se ma is egter die een wat nadergesleep word. Die twee vra haar om uit die Groot Verseboek te lees. Sy gee haar bes en die twee akteurs dra pragtige gedigte ter afsluiting voor.
Die toneelstuk draai geensins doekies om nie en is soos ‘n onverwagte vuishou vir mense wat gedink het toneelspel is net toekennings en roem.
Ondersteun gerus die kunste en vind meer uit oor #DitWatJulleNieWeetNie by die Mhoba Rum Boma-kuierteater vandag om 11:00 en môre om 13:00.
