Local newsNews

Kultuur só opgeklits, ‘n propperse klug

'n Chinese ete in die voorhuis van Popeye en Bianca-Joy Peters loop skeef. Liederlik skeef.

So skeef as wat ‘n ete met jou dogter se skoonouers van wie jy nie hou nie, kan skeefloop. Veral as daar boonop Japaanse ryswyn ter sprake is.

Foto’s: Nicolene Olckers

Dis ‘n Chinese ete – rys met soet-en-suurvark – wat bedien word, maar Bianca-Joy is nie dogmaties met betrekking tot die verskille tussen China en Japan nie. Vir haar is harakiri, ‘n teeseremonie en papiersambrele so Chinees soos made in China. As dit uit die Ooste kom, is dit Chinees.

Foto’s: Nicolene Olckers

Bloot op grond van dié gegewe moet ‘n mens reeds ‘n klug verwag wat nie noodwendig steek wil hou met logika of die werklikheid nie. En dit is presies wat gebeur in Nico Luwes se jongste komedie wat sy debuut op Innibos het: Is die bar al oop?

Foto’s: Nicolene Olckers

Om die koffietafel, op kussings – want die tema is mos Chinees – neem Popeye (Dion van Niekerk), eienaar van ‘n insleepdiens én ‘n loodgieter, en sy kultuurhonger-vrou, Bianca-Joy (Esther von Waltsleben), hulle plekke in as gasheer en -vrou met hul dogter, Katrien (Ané van den Berg), se skoonouers, dr. Niel Badenhorst (Thys Heydenrych), snobistiese narkotiseur, en dié se koketterige vrou, Roxelle (Chanmari Erasmus), as gaste.

Foto’s: Nicolene Olckers

Katrien en Janneman (Charl Henning) se troue kom ter sprake. So ook Radio Kalahari Orkes wat gehuur is om op die troue te speel, en die kroeg wat nié ‘n kontantkroeg was nie… En ook ‘n wittebrood op Maselspoort. Maak dit sin? In die wêreld van die klug maak dit volkome sin. Kinkels kry ekstra kronkels en op die einde word alles glad en gaaf uitgestryk. Soos dit hoort.

Die titel van die stuk kry betekenis in die herhalende vraag van Roxelle. Wat eintlik Roxy is en wat uitpaas op ‘n opblaashaai.

Foto’s: Nicolene Olckers

Nico, Vrystaatse dramaturg bekend vir gewilde produksies soos Die buite-egtelike ouma, Die graswewenaar en Die waterwyser, kom vorendag met ‘n teks – en regie – wat by tye vlymskerp en onthullend is (soos dat Popeye se Scania-insleeptrok

13 keer meer kos as dr. Niel se BMW) en binne ‘n ommesientjie buitensporig belaglik (soos Roxy die vuurwarm verpleegster wat vir ‘n droë drup soos die narkotiseur sal val).

Volgens Nico is dié produksie bedoel as ‘n draak steek met feesgangers se uithangery in kroeë op kunstefeeste terwyl hulle eintlik kultuur behoort te beoefen.

Foto’s: Nicolene Olckers

As jy wil wegbreek uit ‘n kroeg óf uit kultuur, is dié komedie dalk aangewese op vanjaar se fees.

Hoewel die programaantekeninge hoog en laag sweer daar word nie gevloek nie, moet ‘n mens ook dít met ‘n knippie sout neem.

Is die bar al oop? is in Lowveld High School op Saterdag 8 Julie om 15:00.

Tydsduur: 80 minute. Prys: R137.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button