Local newsNews

Komedie-CRAWL ‘puik’

Dowwe Dolla, Soli Philander, Casper de Vries en Schalk Bezuidenhout het die gehoor laat skater by Innibos se eerste Lekker lag Komedie-CRAWL.

Innibos se crawls was nog altyd van die gewildste aanbiedinge by die fees. Vanjaar is verskeie nuwes bygevoeg. Min kon so opwindend as die Lekker lag Komedie-crawl wees wat gister laatmiddag by Ingwenyama Lodge aangebied is.

Ek moet sê, Dowwe Dolla, Soli Philander, Casper de Vries en Schalk Bezuidenhout het, soos goeie komediante maak, hulle gehoor ‘n hele paar dinge geleer.

Vir die gehoor het Innibos se eerste Komedie-crawl afgeskop met ‘n bietjie spanwerk en stapwerk. Die feesgangers op die bus wat 16:00 by NG Westergloed vertrek het, moes die laaste entjie stap, nadat die busbestuurder hom met die roete misreken het. Daar was darem geen kans op ontwatering nie, want die Savanna loco-drankies het van meet af vrylik gevloei (op die bus nou).

Blitsig was dié crawl agter skedule, maar mettertyd het die kruipers hul sitplekke in die kapel ingeneem.

Dowwe Dolla het ons “voorheen bevoorregtes met ‘n dop in die hand in die kerk” verwelkom.Sy het verduidelik sy het nie kom fees nie, sy het gekom om vir langer as twee minute te stort (sy woon in die Kaap). Sy het bietjie vertel van Dowe Dolla (haar ouma) maar het haar by die huis gelos. Die politiek is aangespreek – haar party, die DDP, sal gaan lê waarvoor ander nie sal staan nie! – en toe het sy die manne ‘n bietjie karnuffel.

Hoekom moet julle in die kraamsaal wees? “Ek verstaan julle wil betrokke wees, maar hoekom help julle nie van die begin af nie? Dis tog makliker om die koeëls uit die geweer te haal as om na iets met ‘n koeëlvaste-baadjie aan te skiet, húh?

Sy self het nog nie besluit of sy ‘n baba of ‘n hondjie wil hê nie, maar by ‘n onlangse tandartsafspraak wou hy ‘n tand met ‘n gaatjie in trek. “Ek sê, ek kraam eerder. Hy sê toe, ‘Jy moet gou besluit, sodat ek weet hoe om die stoel te stel.’ Soos julle kan sien, het ek nog al my tande.”

Kyk die video

Die crawl se sekondêre tema, as ‘n mens dit so kan noem, was liggies die draak steek met 7de laan. Hierdie resensent sal nooit as te nimmer weer ‘n verwysing na, wat kennelik die volk se sepie is, kan teëkom sonder om Dolla se “liefdeslied” aan die middeljarige alfa-man (is daar so iets?) waarin hy gemartel word deur die sepie se naam in sy oor te fluister, te hoor nie. Dis om van op die grond rond te rol. Ek is vir ewig beskadig – en dankbaar.

Soli het om die kampvuur in die boma vertel van oud word en vergeet. “Nasaat van my! Wat is jou naam?”

Casper de Vries het, na ‘n worsbroodjie oor ‘n bak springmielies en glas wyn, net nie genoeg tyd gehad om ons alles te leer wat ons moet weet nie. Hy het sy halfuur op die verhoog wel goed gebruik om ons te herhinner dat hy opreg skreeusnaaks is. Blertsie en Oom Kalie Marie was nêrens in sig nie. Sy twee honde was wel (hul name ontgaan my) maar hulle wou nie die aand juis saam optree nie.

Kyk hier

Casper kon ons ‘n bietjie in kuns oplei, veral in hoe om nie kommin te klink as jy skilderye bekyk nie en hoe om Paul Gauguin en Cézanne se name uit te spreek. Hy het mos redelik onlangs besluit om in die beeldende kunste ‘n lewe te probeer maak. Want skilderye is so waardevol!

Hy het ons ook sy Picasso-geïnspireerde “Vrou wat langs ‘n radioaktiewe kragsentrale gebly het, vir te lank” gewys. “Dis net R250, komaan!”

Casper de Vries se honde wou nie saamspeel nie.

Een lid van die gehoor by wie sy honde baie aanklank gevind het, is later beloon met ‘n hoedjie. Hy het mos ‘n kleintjie dood aan pa’s in Roodepoort wat die “kartonmonsters” by die robotte aanraai om ‘n hoedjie te dra. So is sy “Kry vir jou ‘n f@%$#n hoedjie”-reeks pette gebore.

Elza de Jager ontvang haar pet.

Sien meer van Casper by Innibos 2017

https://www.citizen.co.za/lowvelder/395723/bekende-komediant-stof-bekende-karakters-af-vir-n-innibos-kuier/

Schalk Bezuidenhout by die sportkroeg was die laaste, en die sjerrie- sowel as kleine-kleinestop.

Hy het ons geleer dat alle seuns in Afrikaanse staatskole wat nie rugby speel nie, nie! sataniste is nie.

Hy het al sy dae gehad met die vermeende teen die tyd gekoringde gehoor. “Nee, nee, nee, sjuut!” moes hy hulle stilmaak.

Schalk Bezuidenhout.

Dis nie ‘n braai waarna jy jou eie grappies mag bring nie, en nee, hy was nie in ‘n “spesiale” skool, soos een hulpvaardige lid van die gehoor, kompleet met die koppie om sy nek, gevra het, nie.

Hy het die draak gesteek met die “wenners” wat ouers grootmaak. Waar is my medalje? “Jy is ‘n wenner, en hoewel 10 ander kinders vinniger as jy kon wen, en reeds aan guava-sappies gedrink het terwyl jy nog wen, het jy van agter af, stadig gewen.”

Die keer wat hierdie kultuurdier wel op skool gewen het – die ATKV se nasionale redenaarskompetisie, nogal – is dit redelik misken by die skool. Hy is saam met ene Dewald verhoog toe geroep tydens saalopening, net vir “ons” Dewald om gelukgewens te word met sy insluiting by die Valke-rugbyspan. Schalk is met ‘n Chomp-stafie beloon. Maar hy is oor dit. Is Dewald? Hy werk as ‘n uitsmyter in Boksburg. “Vlieg, Valkie, vlieg!”

Dit was voorwaar ‘n leersame ervaring. Muskiet voorspel graag dat dié crawl in die toekoms een van die vinnigste verkopers by die fees gaan wees. En met goeie rede.

Schalk Bezuidenhout is vandag nog om 12:00 te sien in Voksbesit by Lowveld High School. Tydsduur: 75 minute. Prys: R127. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

Lees meer

innibos 2017

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button