Local newsNews

Brel word voortgeleef in die harte en op die tonge van Suid-Afrikaners

Die groet "Bonjour monsieur Brel" kan kwalik op iets anders dui as 'n vinnige hallo sê. Want meneer Brel was nooit weg nie.

Dit was Taubie Kushlick wat in die vroë tagtigerjare, kort ná Brel se dood in 1978, met Brel is Alive and Well and Living in Paris gesorg het dat hy ook in Suid-Afrika voortleef. En dit was veral Jannie du Toit wat oor baie jare en saam met vele kunstenaars, onder andere Christa Steyn, daartoe bygedra het dat dié Belgiese sanger-liedjieskrywer se musiek bly voortleef in die harte en op die tonge van vele.

Jannie se jongste aanbieding van Brel se werk is gedoen met musiekverwerking deur Clinton Zerf en Matthys Maree en aangebied saam met Susan Mouton (tjello) en Coenraad Rall (klavier).

Bonjour monsieur Brel word in die hande van Jannie en dié vier mense ‘n musikale meesterstuk. Susan toor haar instrument, benewens sonoorste tjello, tot kontrabas en tot swiepende altviool. Sy gee die ideale strykerskleur aan die musiek terwyl Coenraad in geartikuleerde spel melodielyne bou. Sy musikale interpretasie beïndruk deurgaans.

Die hegtheid en kwaliteit van Susan en Coenraad se spel is gewoon heerlik om aan te hoor en te aanskou. Daarby sluit Jannie heg aan sodat die drietal ‘n gedugte eenheid vorm. Vergelyk maar die ensemble-spel in “De nuttelozen van de nacht”. Jannie gee ‘n donkerte en ryk tekstuur aan die Brel-chansons – sy liriek-gedrewe liedere van liefde, weemoed en bowenal tederheid. En melancholie. Sy Nederlands en Frans is so duidelik soos sy Afrikaans.

Die program begin by Brel se verklaring teenoor Parys: “Ek sal terugkeer!” in “Les prenoms de Paris” en talm by talle gestaltes van tederheid voordat die bekendste liedere aan die beurt kom. ‘n Verrassing is die orkestrasie en aanbieding van “Die sterwende”, met vertaling deur Naòmi Morgan en Bernard Odendaal.

Die program word netjies gebind deur kort voorlesings uit Brel se skryfwerk asook biografiese inligting met betrekking tot die lewe van dié chanseur wat op 49 dood is.

Juanita Swanepoel het die bindingsteks verskaf wat Jannie in gesprekstrant met sy gehoor deel. Bonjour monsieur Brel is ‘n blink produksie en ‘n erkenning dat die Europese liedereskat aansienlik skraler sou wees sonder die musiek en invloed van Jacques Brel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button