MBOMBELA – Vanjaar se Huletts Koeksister-kampioen, Daleen van Schalkwyk (56), is ‘n sprekende voor-beeld daarvan dat aanhouers wen. Die bobaasbakster van Benoni was in 2016 ‘n finalis in die Huletts Koeksister-kompetisie.
Toe die 74-jarige Retha Skein in 2016 gewen het, het Van Schalkwyk haar visier op vanjaar se R100 000-prys gesit.
Sy is uit meer as 130 inskrywings verkies tot een van vier finaliste. Die ander drie was Ilanda Uitenweerde en Diana Wessels wat as ‘n span ingeskryf het en Lenise Erasmus.

“Daar is nie ‘n tweede plek aangekondig nie. Die drie was gesamentlik tweede,” het Huletts se woordvoerder, Daniël van der Merwe gesê.
Innibossers kon deur die loop van die fees self aan die koeksisters wat elke finalis moes lewer, proe, en vir hulle gunsteling stem om die wenner te bepaal.
Bak is in Van Schalkwyk se bloed en sy skryf vir al wat ‘n kompetisie is in. Sy het al twee keer aan Koekedoor deelgeneem en in 2015 Wenresepte op Via saam met Carmen Niehaus gewen met haar suurlemoen-deurdrenkte sjiffonkoek.
“Ek het so hard gebid dat ek vanjaar se kompetisie sou wen. En toe word my droom waar,” het sy gister aan Laevelder gesê. Sy gaan die prysgeld tweeledig aanwend – ‘n deel daarvan sal in haar eenmansaak, Dee’s Creations, belê word.
“Die oorblywende bedrag gaan gespaar word. ‘n Mens weet nooit wanneer jy dit nodig kry nie,” het sy gesê. Dee’s Creations lewer koeksisters aan onder andere koffie-winkels en trouvenues. Sy doen ook naaldwerk.
Die koeksisterkompetisie was ‘n ervaring wat sy vir altyd sal onthou. Dis te danke aan hierdie kompetisie dat sy in 2016 ‘n goeie vriendin en mentor in haar voorganger, Skein gekry het. Laasgenoemde het aan Laevelder vertel dat sy ook vir haar ‘n vriendin geword het. “Ek het al by haar gaan kuier in Caledon en by haar kers opgesteek met die oog op vanjaar se kompetisie,” het Van Schalkwyk beaam.
Dit het handig te pas gekom toe sy verlede week meer as 4 000 koeksisters moes bak.
“Dit is nou bestellings vir kliënte en die 3 000 wat ek by die fees moes bak. Ek het so tussen 50 en 90 dosyn per dag gebak,” het sy verduidelik.
Van Schalkwyk het bakkers aangemoedig om aan die kompetisie deel te neem. “Selfs al kom jy nie met jou eerste poging in as finalis nie, hou net aan. Glo my, dis die moeite werd!” het sy afgesluit.

