Local newsNews

Erfenisgeboue loop nou kwaai deur

Die provinsie is 'n stukkie van sy erfenis kwyt. Die ou Voortrekkerskooltjie langs die NG Moedergemeente in Lydenburg het Vrydagaand afgebrand.

LYDENBURG – Die 166 jaar oue Voortrekkerskool wat Vrydagaand afgebrand het, was die oudste behoue westerse struktuur in sy oorspronklike toestand, in die provinsie.

Die gebou dateer uit 1851 en is in 1962 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Die eenvertrek-grasdakgebou in die Suid-Afrikaanse pionierstyl behoort aan die NG Moedergemeente op Lydenburg en het talle historiese dokumente en meubels uit die Voortrekkertyd gehuisves. Baie hiervan kon betyds verwyder word voordat die dak inmekaar gestort het. Die skade moet egter nog bepaal word.

Die Voortrekkerskooltjie op Lydenburg nadat dit Vrydagaand afgebrand het.

Die polisie op Lydenburg ondersoek ‘n saak van brandstigting. Dit hou moontlik verband met ‘n werker wat onlangs deur die kerkraad afgedank is.

Lede van Mpumalanga Erfenis het gister die toneel besoek en wag om so gou as moontlik betrokke te raak by enige aksie om die eenvoudige geboutjie met sy kenmerkende sogenaamde skaapboud-sygewels in sy oorspronklike staat te herstel.

Duncan Ballantyne, voorsitter van Mpumalanga Erfenis – ‘n geregistreerde burgerorganisasie sonder winsbejag – het Saterdag gesê te veel geboue van onskatbare erfeniswaarde het die afgelope tyd in die provinsie deurgeloop.

Die gebou was reeds in 1962 tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar en is as museumbewaarplek deur die NG Moedergemeente op die dorp bedryf.

Daar is die Nzasm-gebou op Waterval Boven wat as munisipalekantore gebruik is en toe deur betogers aan die brand gesteek is, die Berlynse sendingkerk op Botshabelo wat weens swak erfenisbestuur in duie begin stort het, die reduksiewerke by Pilgrim’s Rest wat as moontlike wêrelderfeniskompleks gelys was voordat dit deur onwettige goudsoekers gestroop is, en die stadsaal op Belfast wat al enkele jare as uitgebrande bouval in die dorp se munisipale tuin staan.

Die toestand vra vir ‘n noodberaad onder bewaringslui en die owerheid in die provinsie, het Ballantyne gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button