Laevelders maak hul harte oop vir Calvinia boere
Saterdagoggend het 'n opgewonde Van Wyk foto's en 'n video gedeel toe die voer op die plaas aangekom het en deur die loop van die dag het dankbare boere hulle vragte kom laai.

MBOMBELA – Die Laevelders het dié week weer bewys dat hulle harte op die regte plek sit toe hulle die boeregemeenskap van Calvinia ondersteun het met finansiële bydrae om voer vir hulle diere te kry.
Verlede Dinsdag het ‘n WhatsApp-video van die Calvinia-boer, Adriaan van Wyk, die ronde begin doen waar hy op sy plaas stap en 15 dooie beeste tel wat gevrek het. Hierin smeek hy die land vir hulp en sê dat elke sent tans ‘n verskil maak.

“Dís hoe dit lyk by ons op die plaas. Jissie mense, dit maak seer hierdie, dit maak baie seer,” sê Van Wyk in ‘n emosionele stem terwyl hy sy dooie vee een na die ander tel. “Sê julle vir my, hoe kan ek ophou voer soek as dit só lyk. Asseblief mense, enige hulp sal waardeer word,” pleit hy.
Laevelder het Van Wyk, ‘n derdegeslagboer en pa van drie klein dogtertjies, geskakel en hy het vertel dat die boere reeds die meeste van hulle persoonlike besittings verkoop het om aan die lewe te bly. Sake was beroerd in die Calvinia-, Brandvlei-, Sutherland- en Williston-distrikte. Hoewel daar voerskenkings uit verskeie plekke in Suid-Afrika beskikbaar was, kon die boere self nie meer die vervoerkostes bekostig nie.
Hy het ‘n versameling foto’s gestuur uit die omgewing met hordes diere wat reeds gevrek het van die honger. Binne twee dae het Laevelder ‘n paar sakemense genader vir hulp en kon dit regkry om reeds Saterdag twee vragmotors met voer af te lewer. Die ekstra bydraes is in hulle hulpfonds inbetaal wat hiérdie week aangewend sal word om nog vragte te kan stuur.

Bydraes het gekom van Laeveldtrust (Nico van Zyl), Stegman Pietersen, Produkta Groep (Kerneels Kruger), KMI Airport (Marius Nel), Nkomazi Fuel (Paul Hurter), Mahindra Nelspruit (Cas Kolbe), Hans en Jeanette Nel, Audi Mbombela, Laevelder en Rupert Taljaard. Du Toit Smuts het die trustrekening en uitbetalings hanteer. Caxton plaaslike media het ook namens die AgriPulse-bylaag die vervoer van ‘n vrag geskenk.

Saterdagoggend het ‘n opgewonde Van Wyk foto’s en ‘n video gedeel toe die voer op die plaas aangekom het. Deur die loop van die dag het dankbare boere hulle vragte kom laai.
“Ons is so dankbaar, die Here se genade is groot,” het hy laat weet. Intussen gaan hulle pogings voort om nog hulp te kry. Die boereverenigings in die distrik doen wat hulle kan, maar die nood druk reeds so dat buitehulp al redding is.
Bydraes kan inbetaal word by rekeningnaam: Calvinia Farms, Absa, rekeningnommer: 9329287508, takkode 632005.
LEES OOK: VIDEO: Hartseer boer wys hoe droogte vee op hope laat vrek
