R100 000 se toiletware aan bejaardes geskenk
Die gemeenskap kry die geleentheid om hulle harte oop te maak deur onder meer skoonheidsprodukte te skenk.
Die Care Buddies is vir die vierde agtereenvolgende jaar gaande oor ‘n insameling wat toiletware van meer as R100 000 opgelewer het. Danksy die Laeveldgemeenskap, gaan meer as 600 bejaardes by hierdie insameling baat.
Die projek word jaarliks by Crossing SUPERSPAR aangebied, en gee die gemeenskap die geleentheid om hulle harte oop te maak deur onder meer skoonheidsprodukte te skenk.
Lede van Care Buddies het vir drie naweke inkopielyste met benodigdhede aan winkelklante uitgedeel, wat die items dan in ‘n krat voor die winkel geplaas het. Bejaardes onder Care Buddies se vlerk in dorpe soos Mbombela, Witrivier, Waterval Boven, Barberton en Hoedspruit, ontvang elk van daardie produkte.
Care Buddies van hierdie dorpe het vroeër die maand in Witrivier saamgetrek om met dankbaarheid in hulle harte, die duisende items onder takke vir verspreiding verdeel.
Yvonne McHeath, stigterslid van Care Buddies, het alle Laevelders wat hulle harte jaarliks vir die projek oopmaak, bedank.
“Selfs iets so eenvoudig soos tandepasta, is soms ‘n produk wat bejaardes nie kan bekostig nie. Danksy dié projek, kan minstens 600 bejaardes nou ongeveer sewe produkte elk ontvang, wat ‘n wye verskeidenheid toiletware insluit,” het McHeath bygevoeg.
Gemeenskapslede is aangemoedig om by Care Buddies in die verskillende dorpe aan te sluit en te help om bejaardes se lewens te verbeter.


