Local newsNews

Vragmotorbestuurder altyd gereed om te help

"Ek stop altyd, want dis beter om te help as om net aan te ry en mense te los met hulle probleem," Tokozane Mathebula

MBOMBELA – ‘n Vragmotorbestuurder het onlangs nie twee keer gedink om te stop en te help nie, toe hy ‘n motorongeluk net buite die stad gade geslaan het.

Tokozane Mathebula, ‘n bestuurder vir die SAPD se verskaffingsnetwerk, het dadelik sy trok omgedraai om ‘n motoris te hulp te snel.

Ooggetuie Bruce Macaulay het vertel hy was verlede Donderdag 14 September, op die R40 op pad Barberton toe, toe ‘n aankomende kar buite beheer geraak, ‘n trok naelskraap gemis en teen die padreling tot stilstand gekom het.

“Die vrou het nie vinnig gery nie, dit was maar net ‘n geval van motorprobleme,” het Macaulay gesê.

Mathebula het ‘n U-draai gemaak, en toe nog een om sy trok in die geel streep voor die motoris te parkeer. Hy het uitgespring en dadelik die verkeer begin reguleer. Macaulay het die ambulans en verkeersafdeling gebel.

“As ‘n Suid-Afrikaner en ‘n mens wil ek graag my medemens help,” het Mathebula later aan Laevelder gesê.

Tokozane Mathebula. Foto: Bruce Macaulay

Dit was nie die eerste keer wat hy hand bygesit het op ‘n ongelukstoneel nie. Hy het al ten minste 10 keer gestop om mense by te staan.

“Ek dink dit is belangrik dat ons as Suid-Afrikaners saamstaan. Ek wil nie mense sien sukkel langs die pad nie, want dis gevaarlik om alleen te wees in ‘n oomblik van nood. Ek stop altyd, want dis beter om te help as om net aan te ry en mense te los met hulle probleem.”

Lees meer: Video van ongeluk: familie verwag arrestasie

Vir Macaulay behoort alle Suid-Afrikaners hierdie gesindheid na te streef. “Hy het net omgegee. Hy het verseker gehelp om nog ‘n ongeluk te voorkom totdat die nooddienste opgedaag het.

“Dit kom daarop neer dat ons nie almal dieselfde is nie, en dit dus nie help om mense vanuit ons persepsies van hulle te beoordeel nie. Menslikheid ken geen velkleur nie.”

Die vrou is deur die nooddienste gestabiliseer en toe alles onder beheer was, het Mathebula gegroet en aangery.

Lees meer: Hoogswanger vrou sterf in ongeluk

“Ek het sy bestuurder gebel en hom vertel watter knap werknemer hy het, en toe vir Tokozane gebel en gevra dat hy my by die R40/R38-kruising ontmoet sodat ek vir hom dankie kan sê – met lekker padkos en nog ‘n stywe handdruk.

Ek los hom toe met die woorde: ‘People like you give me hope for South Africa and God bless you’. Sy antwoord was: ‘Thank you man, you too’.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button