Local newsNews

Chris Chameleon besing die liefde

Dié spesiale sanger is tydens sy konsert by Stoep vergesel deur Daniella Deysel.

MBOMBELA – Na 28 jaar in die vermaaklikheidsbedryf het Chris Chameleon verlede Vrydagaand vir die eerste keer in die stad opgetree – buiten nou Innibos, en een keer by Blue Moon toe hy nog “voorsangeres” van Boo! was, as hy reg onthou.

Hy is tydens die konsert by Stoep slegs vergesel deur sy eie kitaar, sy beminde Daniella Deysel op baskitaar (wat sy nou maar eers ‘n paar maande speel) en sy eie stem.

Dit hang af wie jy vra: Is dit hierdie spesiale stem met sy spesiale omvang of die lirieke wat aanhangers heeltyd laat terugkom vir meer?

Rian Vermaak het sy vriend se ma, Lindie Naudé, wat nuut in die dorp is, verras met kaartjies en sy was in die wolke. Sy moes eintlik haar kleinkinders oppas, maar is té dol oor Chameleon om die geleentheid mis te geloop het.

Vir dekades al is sy musiek die agtergrond vir ons lewens, van roadtrips tot egskeidings. Die vertoning was meestal oor die liefde wat hy “na vier dekades se eensaamheid” ontdek het.

“Hartlam”, “Stapelgek” en “Sterredank” van sy jongste Afrikaanse CD, Jy ek ek en ek en jy, is ongetwyfeld deur die vrou aan sy sy geïnspireer.

Chameleon se stemgimnastiek is eie aan hom.

Hy het ook sy talent vir liedjieskryf en sing gewys met “By die see kan jy vals sing en niemand gee om nie, niemand kan jou hoor nie, en niemand luister nie.”

Alles natuurlik aspris-opreg vals, en met gepaste seemeeugeluide (hoe dan anders, dit is Chris Cham) aan die einde van hierdie liedjie wat dit nog nooit tot op ‘n album gemaak het nie.

Hy is nie ‘n cover-sanger nie, maar het ‘n anderse The Doors “Break on Through” gewaag – gepas vir ‘n sanger wie se loopbaan gekenmerk word deur die verbreking van konvensies.

Die gehoor kon later kies wat hulle wil hoor. Hy ken per slot van sake elke liewe liedjie wat al ooit geskryf is – deur CC. “Apie” is die luidste versoek – iets wat by elke liewe vertoning gebeur. Die gehoor het hartlik saamgesing.

Die toonsetting van Ingrid Jonker se gedigte het hom “van volstrekte armoede in volkome Engels” na skielike verkope en toekennings in Afrikaans geneem.

Dus moes “Die Onverkrygbare”, “Klein Klein Jakkalsies” en “Bitterbessie Dagbreek” volg. Ou aanhangers het ook ‘n bietjie Boo! gekry met “OOAA”.

Na afloop van die sowat uur en ‘n half se vertoning het Chameleon en Deysel self die CD-tafel beman, en vir ontelbare foto’s saam met aanhangers geposeer.

Van hulle het elke album gekoop en dieselfde aand nog deurgeluister – só betowerend is Chameleon.

Jorrie en Ané Jordaan.
Cordelia Moller en Gerry Engelbrecht.
Jack Groenewald en Gerhard Louw saam met Carina en Johan Jansen.
Daniella Deysel.

Jenny Avery en Mollie Swart.

Lees meer

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button