Local newsNews

Nege redes om Huis Betlehem te help

Hulle is amper onderdeur vanjaar en moes reeds kinders en welsynwerkers wegwys.

MBOMBELA – Een van die vroue wat tans hard vir Huis Bethlehem se voortbestaan baklei, weet besonder goed waarvan sy praat as sy die belang van ‘n goeie plek van veiligheid vir kinders verduidelik.

Ann van der Merwe woon skaars drie maande in Mbombela, maar dit het haar nie lank geneem voor sy begin het om haar kragte in te span om Huis Bethlehem se kinders te help nie.

En het dié plek van veiligheid nie hulp nodig nie.

Van der Merwe was as kind self in ‘n weeshuis. “Ek weet hoe moeilik dit is om jou lewe vorentoe te lei, met soveel terugslae. Jy het nodig om teruggetrek te word in die samelewing en te voel jy is iets werd,” vertel sy.

Hulle is amper onderdeur vanjaar, vertel Mariaan Lourens, administratiewe bestuurder van die huise in Witrivier en Mbombela. Huis Bethlehem Nelspruit het al vir vyf maande nie huisouers nie. Hulle moes reeds kinders en welsynwerkers wegwys.

Lourens wil graag ‘n belowende paartjie van Gauteng hierheen bring, “maar hoe vra jy mense om hul hele lewe te ontwortel vir ‘n pos wat jy nie seker is oor ‘n paar maande steeds gaan bestaan nie?” vra sy.

Intussen woon al nege kinders by Marlene en André van der Merwe in Huis Bethlehem Witrivier. Die kinders tans in hul sorg, wissel van vier maande tot 11 jaar oud.

Ann van der Merwe en Mariaan Lourens in een van die leë inderkamers in Huis Bethlehem.
Huis Bethlehem het die afgelope jaar finansieel harde bene gekou. Hulle moes onder meer, na ‘n nuwe perseel in Witrivier verhuis. Hoewel verskeie mense en maatskappye hulle ondersteun, “is ons nog nie waar ons gemaklik is nie,” verduidelik Lourens.

Om dit aan te spreek, organiseer hulle nou die 100×9 Tee-uitdaging, waarmee hulle die hele gemeenskap wil betrek.

Let wel, inskrywings koop ‘n 18-gaatjie spel

Dit is ‘n gholfdag met ‘n verskil, waarmee hulle beplan om broodnodige fondse in te samel.

Nie net gholfspelers kan bydra nie, enigiemand kan ‘n vierbal borg en dan speel of nie. So kan hulle meer as die gebruiklike 28 spanne akkomoddeer. Soos Van der Merwe sê, hulle wil elke gat 100 keer verkoop.

Al die groot sekuriteitsmaatskappye is ook betrokke en sal op 28 September teenwoordig wees. “Dit verg die hele gemeenskap om kinders te red en te help,” sê Van der Merwe. Tobie Mostert van Off Course Golf Promotions sal ook die vendusie van spesiale sportgedenkwaardighede behartig.

Huis Bethlehem werk soos ‘n gewone huishouding – daar is net meer kinders. Daar is huur, water en ligte, kos en vervoer skool toe, wat betaal moet word. Daarbenewens, gegewe hul traumatise agtergrond, het die kinders ook spesiale behoeftes. “Ons het al kinders gehad wat nie kan tel of kleure se name ken nie, en eintlik in gr. 1 moet wees,” vertel Lourens.

In die huidige situasie, kry die huisouers ook nooit ‘n naweek af nie. “Hulle is ysters,” voeg Lourens by. “Jy kan nie die verskil glo wat hul aandag en liefde in die kinders se lewens maak nie.”

 

“Die kinders maak staat op die gemeenskap vir morele en finansiële ondersteuning,” sluit Van der Merwe af. Ons nooi alle maatskappye en die gemeenskap om saam te staan vir Huis Bethlehem.

Om by die bewusmakingsgholfdag betrokke te raak, skakel Van der Merwe by 060-783-8941 of 082-700-4772 of bethlehemgolfday@gmail.com.

Lees meer

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button