Karula bly ‘n gunsteling van die Lekkerbekke
'n Aansitete by Karula Hotel buite Witrivier bly maar een van die lekkerste dinge om hier te doen
MBOMBELA – Die Laeveld Lekkerbekke, ‘n groepie tafelgenote wat gereeld by eetplekke in die buurt aansit, fokus vanjaar bietjie op plekke waar ‘n mens vir ‘n goeie Sondagmiddagete kan gaan. Die jongste meningspeiling dui daarop dat die Karula loshande die gunsteling is.
Die eetplekke waar die Lekkerbekke nou al was, is die Boskombuis by Bushveld Lodge, Explorers by Emnontweni Casino, Witrivier Buiteklub en A Bica in die Belladonna-sentrum. Die Karula staan nou ‘n kortkop voor A Bica.

‘n Mens moet egter ook in gedagte hou dat die Lekkerbekke nog nie by al die plekke was nie, soos die hoogaangeskrewe Adega in die Tarentaalsentrum, met sy uitgbreide verskeidenheid teen R185 per persoon. Adega word ook jaarliks deur die mense van Mbombela tot die beste in sy afdeling in die jaarlikse Best of Mbombela verkies.
Dan is daar ook die Sondagbuffet by Silver Mist op Kaapsehoop teen R180 per persoon wat ook goeie boerekos bied en die kontinentale buffet en voorsnytafel op Sondagmiddae by die Winkler Hotel, om maar ‘n paar te noem.

Wat in die Karula se guns tel, is nog die outydse tafelbediening volgens die voorafbepaalde spyskaart. Die begin by ‘n sop met krakerige geroosterde melbabrood, dan die visporsie gevolg deur ‘n keuse van twee vleise, of altwee, met gebraaide aartappel en groente. Alles is tuisgemaak soos die slaaitafel met sy outydse geregte wat ‘n mens net nêrens meer kry nie.

Die ete word self met drie gange afgesluit. Altyd ‘n warm of gebakte poeding waarvan ek die pekanneutpastei onweerstaanbaar vind, of bestel gewoon net vanieljeroomys met warm sjokoladesous – Coupe Denmark, soos dit vroeër jare ewe grênd op spyskaarte aangedui is. Dan volg die koffie en dan die kaasbord met beskuitjies. ‘n Uitstekende aanbod teen R165 per persoon.
Soos gewoonlik het Marius de Beer van Distell weer vir ‘n gepaste wyntjie by die maal gesorg. Two Oceans wat op die oomblik ‘n groot Suid-Afrikaanse gunsteling in lande soos Kanada is en baie gewild is onder die gaste hier by Karula, se Sauvignon Blanc en Merlot was op die tafel. Distell is tans die grootste verspreider van wyn en drank in Mpumalanga.

Jy was nie in die Laeveld as jy nog nie by die Karula Hotel aangesit het nie. Pelle van ons uit Johannesburg wat jaarliks by hulle tyddeel gaste by Kruger Park Lodge onthaal, maak dit ‘n instelling om op die Sondag hier aan te sit. Ons wat hier in die Laeveld woon, maak natuurlik meermale so.

