Local newsLocal sportNewsSport

Oud-Nellie haal SA-onderwaterhokkiespan

'n Oud-inwoner van die Laeveld het Protea kleure verwerf in onderwaterhokkie en die land verteenwoordig in Julie, in Hobart, Australië as lid van die o/23-manspan.

Richard O’Farrell, ‘n voormalige Hoërskool Nelspruit-leerder het vroeër vanjaar Protea-kleure in onderwaterhokkie gekry en Suid-Afrika tydens die World Age Group-onderwaterhokkiekampioenskappe in Julie in Hobart, Australië as lid van die o/23-manspan verteenwoordig.

Dit was die vierde keer dat die kampioen-skappe aangebied is, en spanne van onder andere Argentinië, Australië, Nieu-Seeland, Kanada, Frankryk en Amerika het daaraan deelgeneem. Die Suid-Afrikaanse o/23’s het algeheel sewende geëindig.

“Dit was my eerste wêreldbyeenkoms en as die mees onervare speler in die span was dit ‘n ongelooflike belewenis.Die fisiese asook geestelike krag wat dit verg om twee of meer wedstryde per dag te speel, vra baie van ‘n mens, maar is voorwaar ‘n ondervinding wat ek vir niks sal verruil nie,” het O’Farrell gesê.

Hy is van jongs af lief vir watersport en het van gr. 1 af in Komatipoort Akademie tot in matriek by Nellies in galas geswem.

Lede van die SA o/23-mansonderwaterhokkiespan. Foto’s: Verskaf

Hy was vyf jaar lank lid van die SA Skoleswemspan en het in beide Mpumalanga en KwaZulu-Natal provinsiale kleure vir tweekamp ontvang.

Lees meer: Nellies reg vir die swembad

Wanneer hy nie in die water was nie, was hy op die hokkieveld en het hy ook in NHS se eerste seunshokkiespan gespeel.

Hy is in gr. 12 aan onderwaterhokkie bekendgestel – ‘n sport wat beide sy liefde vir water en hokkie insluit. In 2014, tydens sy matriekjaar, het hy vir NHS gespeel en was hy ook onderkaptein van Mpumalanga se junior onderwaterhokkiespan.

‘n Jaar daarna het hy by Tuks en Gauteng-Noord in Pretoria aangesluit en sedertdien aan drie senior nasionale kampioenskappe deelgeneem.

Volgens O’Farrell is onderwater-hokkie ‘n goeie sportsoort vir enigiemand wat hulle longkapasiteit wil verbeter of sommer net lus is vir speel. “Vir my is die sport regtig groot pret, want dit kombineer die vaardighede van hokkie en swem en sorg vir ‘n adrenalieninspuiting soos geen ander wat ek al beoefen het nie,” het O’Farrell gesê.

Hy is tans lid van Tuks en Gauteng-Noord se onderwater-hokkiespanne en is hard aan die oefen ter voorbereiding van die 2019 Wêreldkampioenskappe wat in Groot-Brittanje aangebied gaan word.

“Ek sal enigiemand aanmoedig om onderwater-hokkie te probeer, want jy kan dit speel al is jy stokoud of bloedjonk. Die oudste speler by ons klub is 78 en die jonste is 11, en almal speel teen mekaar,” het hy verduidelik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button