Katoen: Slenter of suur druiwe?
Aantygings van onder meer drank- en dwelmgebruik, is teen inwoners onder toesig van opsigters Quinton en Clark gemaak en hulle self is van diefstal beskuldig.

Die mense van Katoen, ‘n sukkelende gemeenskap in die Witrivier-omgewing is onlangs in die kollig geplaas. Dit volg nadat bewerings van grootskaalse ongerymdhede aan die groot klok gehang is.
Voormalige inwoners me. Bronwyn van Heerden en me. Larochelle Theart is daarvan beskuldig dat hulle bedrieglik namens Katoen geld ingesamel het. Die geld is glo in hulle sakke gesteek. Alhoewel geen sodanige klag by die polisie gelê is nie, het me. Melanie Clark, ‘n opsigter by Katoen, foto’s van Van Heerden en Theart saam met die aantyging op Facebook geplaas. Theart het teruggekap deur dit te ontken en Katoen van wanbestuur te beskuldig. Aantygings van onder meer drank- en dwelmgebruik, is daarna teen inwoners onder toesig van opsigters Quinton en Clark gemaak en hulle self is van diefstal beskuldig. Daar word onder meer beweer dat sommige skenkings wat Katoen ontvang, soos koeldranke, in die winkeltjie op die perseel verkoop word en nie die inwoners bereik nie.
Lees ook: Wingrave kry groenlig vir ‘n naweek tuis
Volgens Theart word dwelmmisbruik op Katoen se perseel geoorloof. Hieroor het me. Willemien Reyneke – tans ‘n ma-figuur vir meer as 44 inwoners – heftig gereageer. Sy het die gerugte as twak afgemaak toe sy met White River Post in verbinding getree het om katoen se kant van die saak te stel. “Drank- en dwelmgebruik is teen ons beleid. Op grond hiervan het ons hulle gevra om die perseel te verlaat. Nou is hulle bitterbek en probeer ons naam deur die modder sleep,” het sy gesê.
Witrivier sakemane maak ‘n plan vir die Boesmanland
“Ons het lank geweet van Theart se dwelmgebruik, maar kon tot baie onlangs nie genoegsame bewyse teen haar kry nie,” het Reyneke beweer. “‘n Stemopname het ons intussen bereik waarin ‘n man en ‘n vrou – ons glo dit is Theart – saamspan om dwelms te bekom,” het sy gesê. Die man het toestemming verleen dat die koerant oor die stemboodskap berig. Die dialoog is deurspek met kru taal. Die vrouestem erken “ek rook dagga, ja” en vertel dat dwelms maklik bekombaar is. Sy stem in om hom te help om dwelms te bekom. Sy sê dat die verskaffer in Msholozi – ‘n nabygeleë nedersetting – woon. Die vrou onderneem glo om die man in kontak te bring met ‘n dwelmverskaffer. “Hy kyk mooi na jou,” het sy na bewering gesê en benadruk hoe maklik die dwelms bekombaar is. Ten spyte van herhaaldelike pogings, kon nie Theart of Van Heerden vir kommentaar in reaksie hierop bereik word nie.
Reyneke het die gemeenskap verseker dat daar geen drank en dwelms by Katoen toegelaat word nie. “Dit word ten sterkste veroordeel,” het sy gesê.

“Wanneer ons dwelmmisbruik vermoed, doen ons dwelmtoeste en wanneer ons drank op die perseel kry, lê ons terstond beslag daarop en vernietig dit,” sê sy.
Daar het tot baie onlangs ‘n algehele gevoel van verligting onder die inwoners geheers nadat Katoen sedert die koerant se laaste artikel, ruimhartig deur die gemeenskap ondersteun is. Maar, sedert die inskrywing op sosiale media, is dit bitter stil. “Net toe dit begin goed gaan, toe verloor die gemeenskap hulle vertoue in ons. Ons wil julle verseker dat julle skenkings in goeie hande is, en daar geen ongerymdhede is nie,” sê sy.
Sy nooi lede van die gemeenskap wat steeds twyfel, uit om self te kom ondersoek instel.

