Die Skim praat oor…
Aangename kennis. Ek is die Skim. Ek kan jou nare droom wees as jy aan die verkeerde kant van my gifpen beland, of die engel wat jou beskerm teen mense wat hulle mag misbruik.

Met die afskop van ‘n bedrywige wintersportseisoen en verskeie wedstryde wat hier op die tuisfront gespeel word, is die verskil tussen die vermoëns van die Laevelders en die besoekende spanne opvallend.
Hoewel die plaaslike skole se spanne sonder twyfel hulle harte uitspeel, kan hulle maar net nie by die besoekers kers vashou nie.
Die Skim praat van Gautengse skole wat miljoene rande tot hul beskikking het om spelers te koop.
Nou. Die Skim is bewus van die ooreenkoms tussen die onderskeie hoofde in die omgewing dat daar nie spelers gekoop mag word nie.
Lees ook: Nare droom of jou beskermengel?
Ek hou natuurlik baie van die rede. Dit gee skole ‘n gelyke kans om teen mekaar te kan kompeteer, maar as daar nie drasties veranderinge gemaak gaan word nie, dan het Die Skim nie veel hoop vir die toekoms nie.
Daar is ‘n groeiende tendens onder skoliere wat deesdae lief daarvoor is om hul vuiste te swaai. Outjies! Julle is nog op skool. Julle stel nie net julle spanmaats in die verleentheid nie, maar ook jou skool.
Ouers. Die Skim wil graag aan julle ‘n versoek rig. Mits jy ‘n probleem het met hoe ‘n skeidsregter ‘n wedstryd blaas, stel ek voor dat jy jou skeids-regtingskursus agter jou naam kry.
Veral rugby-ouers. Die Mpumalanga Skeidsregting Vereniging bied deur die jaar verskeie kursusse aan. Moet nie huiwer om hulle te skakel nie.
Lees ook: OPVOLG: Ongelukslagoffer sterk goed aan
Die rede waarom Die Skim oor die sensitiewe saak gesels, is omdat ondersteuners hulle skynbaar hoër as die skeidsregters, organiseerders en afrigters ag.
Daarby is daar altyd ‘n afrigter of twee wat hulle spanne soms te oordrewe van die kantlyn af wil aanvoer deur somtyds bloedjong spelertjies kwetsende woorde toe te snou ongeag van wie binne hoorafstand is.
“Ek gaan jou hard donner as jy weer so swak skop” kan tog sekerlik nie die mees effektiewe manier wees om jong sportsterre in wording aan te moedig nie.
‘n Verdere bron van kommer is sommige organiseerders van sportdae se gesindheid teenoor joernaliste en fotograwe.
Die afgelope paar maande het die Skim en sy vennote ‘n hele paar gevalle gehad waar ‘n fotograaf na ‘n geleentheid genooi is, net om voor dooiemansdeur te staan te kom.
Miskien het die tye verander en het die Skim agtergebly, maar in my boekie is dit doodeenvoudig swak maniere om mense nie te laat weet as daar ‘n verandering van program of kansellasie is nie.
Lees ook: Vrou dood na vragmotor in oopgroefmyn beland
Daarby saam is die aanhoudende aantygings dat nie alle skole dieselfde blootstelling in die plaaslike nuusblaaie geniet nie. Dit mag hier en daar dalk die geval wees, maar dié wat so gou is om die aantygings te maak, moet liefs eers seker maak wat die omstandighede is wat daartoe lei.
‘n Goeie voorbeeld is ‘n onlangse geval waar ‘n fotograaf aangesê is om liewer nie ‘n geleentheid by te woon nie, want daar is reeds ‘n fotograaf wat vir die neem van foto’s verantwoordelik is. Nou hoe dan nou? As die Skim en sy span nie toegelaat word om foto’s te neem nie, hoe moet die berigte saamgestel word?
Miskien is spanwerk en wedersydse respek die eenvoudigste manier om te verseker dat almal hul plekkie in die son geniet?
Die Skim wil graag ook van hierdie geleentheid gebruik maak om sy gevoel oor die aantal balkies op leerlinge se baadjies aan te spreek.
Die Skim is nie ‘n skoolhoof nie en is ook nie deel van ‘n beheerliggaam nie, maar dit lyk onnetjies.
As jy in graad agt reeds die geleentheid gekry het om ‘n balkie op jou baadjie vas te werk, dan hoef jy mos nie vir die oorblywende vier jaar weer dieselle sportbalkie aan te werk nie.
Dit is my opinie.
Sterkte aan die Pumas wat binnekort hul SuperSport-uitdaagtoernooi-veldtog afskop. Dan ook aan al die skole se wintersportspanne wat vir die Mpumalanga-titel sal meeding.
