Porsche se 718 Boxster en Cayman kry GTS-woema
Porsche besluit om nuwe definisie aan die woord vinnig te heg met die gebruik van GTS

Volgende maand is dit presies 70 jaar gelede, kort na die verwoestende Tweede Wêreldoorlog in 1948, dat die eerste Porsche 356 sy buiging in Oostenryk gemaak het.
Amptelik bekend as die “Tipe 356” was “Nommer 1” deur die agterwiele aangedryf en was die klein tweesitplek-sportmotortjie met sy oop dak se kragbron ‘n middel-gemonteerde viersilinderpetrolenjin.

Porsche, wat volgende maand sy 70-jarige bestaan vier, sê die nuwe 718 GTS-modelle het juis inspirasie by “Nommer 1” gaan soek, asook by die latere renmodel bekend as die RSK-model, oftewel amptelik die 718 RS 61 Spyder. Nog later het die 718 GTR gevolg, ‘n ligte koepee wat ‘n roemryke rengeskiedenis in Le Mans-renne nagelaat het.
Nuwe modelle die trotse draers van Porsche se DNS
Hierdie ligte renmotors met hul middelgemonteerde viersilinder-bokserenjins het die grondslag gelê vir Porsche se hedendaagse reputasie as vervaardiger van legendariese kampioenskapwenners op die renbane van die wêreld. Ons het onlangs die plaaslike bekendstelling van die 2018 718 GTS Boxster- en Cayman-modelle op Kyalami (waar dan ook nou anders?) gaan bywoon.

Van buite gesien trek die 718 GTS-modelle aandag met ‘n rengerigte voorkoms en treffende swart afwerking voor by die groot luginlate en lae lugsnoer. So ook die swart luginlate voor die agterwiele en die donkergetinte hoof en agterligte.
Groot 20 duim- spesiaal ontwerpte swart sierwiele met breë laeprofielrubber en rooi Porsche remknypers beklemtoon die GTS-modelle se renbaangene. Die neus het sterk ooreenkomste met die 911 modelle. Agter is dit die fris uitlaatpype wat middel in ‘n swart lugskort gemonteer is, asook die GTS-kenteken wat die 718 GTS van sy minder kragtige 718 S-model onderskei.

Die kajuit is sportief weelderig met GTS-kenteken in die Alcantara leerbeklede binneruim. Ook die dakvoering is swart met Alcantara leer uitgevoer. Die pragtige sportsitplekke is elektries verstelbaar terwyl die volkleur- inligtingskerm voor middel in die instrumentpaneel met ‘n verstelknop langs die handrem beheer word.
Sportiewe instrumentasie, kajuituitleg en die klein stuurwiel onderstreep ook die rengerigtheid van die 718 GTS-modelle. Met die Sport Chromo-pakket is die analoogstophorlosie in die instrumentepaneel byvoorbeeld gekoppel aan ‘n digitale tydhouer op die raakskerm waarmee rondetye en versnellopies aangeteken en gestoor kan word.

Laai jy egter Porsche se baantoepassing op jou slimfoon af, het jy onder meer toegang tot meer as 100 renbane wêreldwyd se grafiese en video-ontleding van jou bestuurstyl en rondetye sou jy daar gaan jaag met jou 718 GTS.
Die nuwe 718 Boxster GTS oopdakker en 718 Cayman GTS koepee het groot spore om in te ry en juis daarom het Zuffenhausen se witjasse besluit om die modelle ligter en kragtiger te maak.Die gevolg is kraglewering geskied nou in beide modelle met die komplimente van ‘n middel-gemonteerde viersilinderturbo- petrolenjin van 2,5 liter.

Aandrywing is steeds na die agterwiele, maar die nuwe 718 GTS modelle doen dit deur middel van ‘n 6-gang dubbel-
koppelaarratkas (PDK) of 6-ganghandratkas. Die nuwe kragbron lewer piekverrigting van 269kW (26kW meer as die vorige normaal-geaspireerde sessilinder) danksy ‘n herontwikkelde inlaatstelsel en ‘n meer doeltreffende turboaanjaer.
Kies jy die handratopsie kry jou 718 GTS 420Nm se maksimum wringkrag teenoor die PDK ratkas se 430Nm wat ‘n 70Nm verbetering op die vorige enjin is.Toegerus met die Sport Chrono-pakket neem die 0-100 km/h lopie slegs 4,1 sekondes en hou jy voet geplant, raak die GTS modelle eers uitasem by 290 km/h.

Porsche se amptelike verbruiksyfer vir beide modelle word aangegee as 9,0 liter/100 km.Tydens die bekendstelling by Porsche SA se tuiste op die Kyalami Internasionale renbaan buite Johannesburg, kon ons die twee 718 GTS-modelle om die baan looi.
Die standaardveerstelselbeheer laat die onderstel met 1 cm grond toe sak as jy Sport Plus-modus kies. Daar is ook ‘n opsionele PASM Sport-veringversteling te kry wat die onderstel ‘n verdere 1 cm laer laat hurk.Selekteer jy Sport Plus-modus op die stuurwiel, word ook lanseerbeheer geaktiveer.

Verder word die PDK-ratkas, veer- en stuurstelsel aangepas om die bes moontlike greep, hantering en dinamika uit die GTS-modelle te haal. Die PDK-ratkaste is ongelooflik vinnig en soomloos in oorskakeling. Ons is rondom Kyalami begelei deur Duitse Porsche Cup-renjaers in 911 Carrera T-modelle.
Uiteraard was dit platvoet om Kyalami angstig in ons poging om by die manne in die veel vinniger 911’s te bly. Met die ligter 718 GTS-modelle kon ons gelukkig veel later rem as die groter 911’s en terwyl die renjaers op die lang sneldele die gaping voor die 718 GTS vergroot het, kon die renjaers die wit van my oë sien wanneer ek deur die kort draaie onder die 911 se stertvin inklim, danksy die “Sport Response”-knop op die stuurwiel waarmee piekkrag vir 20 sekondes uit die 718 gewurg word wanneer dit geaktiveer word!

Greep, versnellerreaksie, stuurgevoel en balans is bykans perfek met veral die koepee 718 Cayman GTS wat met ons bestuurstyl effe stewiger en meer geplant deur die draaie gevoel het. In “Sport Plus”-modus laat die vastrapstelsel effe meer gly toe voor dit inskop, maar selfs daarmee wou die Cayman model nie greep deur die draaie verloor nie.
Met die 718 oopkap-Boxster GTS, wat marginaal ligter, laer en kleiner as die Cayman GTS is, kon ons soms platvoet ‘n vierwielgly vir die fotograaf deur die draaie bewerkstellig. Ons het daarna die geleentheid gehad om so ongeveer 200 km op Gauteng se snelweë en stadstraatjies te gaan ry.

In “Normaal”-modus is die 2018 Cayman en Boxster GTS verbasend geriefl ik, selfs op paaie waarvan die oppervlakte soms ongelyk en ru was, grootliks te danke aan goeie demping van die veerstelsel. Dit het opgeval hoe gemaklik die nuwe 718 GTS modelle as ‘n elkedag-ryding gebruik kan word.
Ons was nooit werklik ‘n Boxster fên nie en met die nuus dat 2018 718 GTS se enjin twee silinders gaan verloor, was ons redelik skepties of die 2018 718 GTSmodelle se nuwe 4-silinder-turboenjin die ding gaan doen. Slotsom, ons was meer as net aangenaam verras.

Inteendeel, ons was werklik beïndruk. Die enjinklank van die nuwe enjin was ‘n skor roggel as die aansitter gedruk word. Platvoet met die uitlaatfl ap oop teen 7 000 r/min (die enjin toer vinnig en gemaklik by piektoere) is die enjinklank ‘n heerlike verslawende klank op die oor.
Die 2018 718 GTS-modelle is nie meer die noodgedwonge keuse van die koper wat graag ‘n 911 model wil koop, maar dit nie kan bekostig nie. Die nuwe 718 GTS mag dalk die kleiner boet van die 911 wees, maar is in alle opsigte ‘n rasegte Porsche wat die DNS en nalatenskap van 70 jaar gelede se ligte viersilinderrenmotors met trots kan voortdra.
