Danie Theron aanvaar nuwe pos
Dié gewilde oudpolisieman het baie misdadigers se lot beseël.
MBOMBELA – Danie Theron, ‘n voormalige lid van Bossies Community Justice (BCJ), is deesdae die jongste toevoeging tot die span van Elektra.
BCJ was weens finansiële druk gedwing om een van hulle topspanlede se poste te besnoei.
Lees ook: Plaaslike besighede word uitgedaag vir fondsinsameling vir Mienke
Theron was vir byna drie jaar lank lid van hulle span en sy deskundigheid in spoorsny, redding, en die hantering en opleiding van honde was ‘n groot aanwins vir Bossies. Dié gewilde oudpolisieman het baie misdadigers se lot beseël.
Hy was vir 25 jaar ‘n lid van die Witrivierse honde-eenheid en is bekend daarvoor dat hy sy lewe al talle kere op die spel geplaas het ten einde ander te hulp te snel. Hy vertel dat sy tyd by BCJ ‘n goeie uitdaging was en dat hy dit veral geniet het om nuwe mense te ontmoet.
Theron het verlede Maandag by die Elektraspan aangesluit, waar hy sy kundigheid en jare se ervaring tot die maatskappy se voordeel gaan gebruik.
Hy is nou werksaam as ‘n verkoops-verteenwoordiger waar hy in onder meer tweerigtingradio’s en sekuriteitskameras sal spesialiseer. Met sy agtergrond sal hy ‘n volledige bepaling kan doen om die individu se behoeftes vas te stel.
Theron bly as ondervoorsitter by die Off Road Rescue Unit betrokke.
Lees ook: Damvlakke daal steeds skerp ondanks onlangse reën
