Fratsvloede op N4, Weerdiens waarsku dalk nog op pad
Onreëlmatige reënval en hewige donderbuie, gepaardgaande met sterk wind en hael is steeds 'n moontlikheid en die SAWS waarksu teen die moontlikheid van verdere fratsvloede.

MACHADODORP – Terwyl die weste van die land onder ‘n verwoestende droogte gebuk gaan, is tot 60 mm reën tydens wolkbreuke van slegs ‘n paar minute in dele van die Laeveld gemeet.
Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWS) ‘n waarskuwing uitgereik het vir hewige donderbuie en swaar reën oor die afgelope naweek.
Die woordvoerder van Trans African Concessions (TRAC), Solange Soares-Nicholson het bevestig dat fratsvloede Saterdag op die N4 tussen Crossroads en Waterval Boven voorgekom het. “Die pad is nie amptelik deur TRAC gesluit nie, maar weens die massas water oor die pad kon voertuie nie die pad oorsteek nie,” het sy gesê. “TRAC se spanne was gou op die toneel om die gebied op te ruim en toeganklik te maak vir verkeer,” het sy gesê. Geen ernstige voorvalle of beserings is aangemeld nie.
Die watervlak het kort nadat dit die pad oorspoel het, gesak en voertuie kon brûe versigtig oorsteek. Sy verduidelik dat die pad in so mate ontwerp en gebou is om massas water te hanteer, maar die reënbui was net te kwaai en te skielik. Die feit dat Kwenadam se vlak weens min reën in dié opvangsgebied sukkel om te styg, bly egter kommerwekkend.
Onreëlmatige reënval en hewige donderbuie, gepaardgaande met sterk wind en hael is steeds ‘n moontlikheid en die SAWS waarksu teen die moontlikheid van verdere fratsvloede.
Die gemeenskap word gemaan om sover moontlik tydens sulke omstandighede binneshuis te bly. “Indien die padoppervlakte nie sigbaar is nie, is dit nie veilig nie,” waarsku die Departement van Rampbestuur.
Vermy laagliggende gebiede tydens swaar reën. Indien jy in jou voertuig in ‘n fratsvloed vasgevang word, laat dit agter en soek hoogliggende terrein. Indien ‘n huis oorspoel, moet die krag so spoedig moontlik afgeskakel word.
Lees ook: Things to remember when caught in a hailstorm
FLOODS: Keep the following in mind should it occur
