Sudwalagrotte verleen diepte aan sanger se woorde
Die asemrowende Sudwalagrotte was Saterdagaand die sprokiesmooi agtergrond vir die immergewilde Afrikaanse sanger Elvis Blue se optrede in die Laeveld.

MBOMBELA – Dit is ten bate van die Moving Mountains for Cancer Patients-organisasie gehou en die opbrengs van die aand is aan kankerlyers geskenk.
Volgens die stigter van die organisasie, Izelle Pretorius was dit die eerste fondsinsamelingsgeleentheid van die jaar. “Ons beplan ‘n groot 80’s-disko op 13 April by A-lounge wat beloof om hope pret te wees,” het Pretorius gesê.
“Dit was vir ons ‘n besonderse voorreg om deel te wees van die geleentheid en om Pretorius en ons gemeenskap so te ondersteun,” het Marthinus de Bruin, bestuurder van Citybug gesê.
Dié maatskappy het konsertgangers na en van die grotte vervoer en ook met kaartjieverkope gehelp.
Plaaslike sanger Karien van Niekerk was die seremoniemeester en het die gehoor vermaak voordat Blue die verhoog betree het.
ALSO READ: White River mom missing since January
Die akoestiek van die grotte het sy rasperstem en hartroerende lirieke perfek gekomplementeer. “Hoeveel mense kan sê dat hulle op ‘n Saterdagaand in ‘n grot sit en wyn drink?” het Blue onder luide toejuiging van die ongeveer 300 gehoorlede gesê.
Hy het treffers soos “Die Brug”, “Spore” en “Toe Ons Jonk Was” gesing. Dit was egter sy liedjie “Berg” wat die gehoor ‘n traan of wat laat pink het toe hy dit aan die organisaie opdra.
“Ek hoor hoe sy sê jy moet net aanhou stap, al wil jy opgee langs die pad, dis die berg wat ‘n mens moet klim,”
lui die woorde wat gepoog het om vir elkeen wat al deur kanker geraak is of wie se geliefdes daardeur moes gaan, te bemoedig.
Gaan loer gerus op die organisasie se Facebook-blad indien jy ‘n bydrae wil maak.
