Pienkie Ponkies kuier by oupas en oumas
Hulle het kombersies teen die komende winterkoue en teddiebere uitgedeel.
Die NG gemeente van Hazyview se barmhartigheidsbediening het Maandag vir Pienkie Ponkie Kleuterskool genooi om Rustig Ouetehuis op Witrivier saam met hulle te besoek.
Ds. Sterns Pretorius gaan elke eerste Maandag van ‘n maand na dié ouetehuis om vir die inwoners ‘n openingsboodskap vir die week te gee. Maandag het die kleuters hom en lede van die oggendbybel-studiegroepe vergesel om vir al die oumas en oupas liedjies te sing en teddiebere uit te deel.
Die teddiebere is deur gemeentelede gebrei. Hulle het ook kombersies teen die komende winterkoue uitgedeel wat weer deur lede van Helpende Hand gebrei is.
Dawie Potgieter en sy vrou Ina het saamgegaan en Dawie het kitaar gespeel terwyl die kleuterskoolmaats saamgesing het.
Ina Lubbe, Etly Lubbe en die NG gemeente van Hazyview het lekker kolwyntjies en koeksisters gebak wat die bejaardes kon geniet terwyl Mari Louise en Hendrik Erasmus weer ‘n Christelike lied vir die oumense gesing het.
“Baie dankie aan die gemeente dat hulle ons Pienkie Ponkie-maats genooi het om hierdie spesiale dag mee te maak,” het Natascha Lotz agterna gesê. “Ons almal het dit vreeslik baie geniet.”
